Kom sit saam aan diu00e9 tafel
Kom sit saam aan diu00e9 tafel

Kom sit saam aan dié tafel

Gerine Hoff
Twee berigte het die afgelope paar weke my oog gevang: President Abiy Ahmed van Ethiopië wat gasheer gespeel het vir 200 sakemense by wat beskryf word as die “duurste ete ooit” in die land, en die peperduur inhuldiging van Suid-Afrika se president Cyril Ramaphosa.

Terwyl Ramaphosa se spin doctors vinnig is om te sê hul nuwe president se inhuldiging is N$100 miljoen goedkoper as sy voorganger s’n, is die N$150 miljoen wat daarvoor geoormerk is, steeds baie. Soos een van my vriendinne oorkant die Oranje sê: “Gaan kantoor toe en doen wat Suid-Afrika nodig het van jou om te doen. Niemand anders kry ’n partytjie wanneer hulle ’n nuwe werk begin nie.”

Die Ethiopiese premier het dalk meer edele redes vir sy duur ete. Gaste moes U$173 000 per persoon opdok vir ’n ete by die paleis van ’n oudkeiser. Die gala is gehou om U$1,1 miljard in te win om vir die opknapping van Sheger, ’n area in Addis Abeba, te betaal. Dié projek behels die skoonmaak van riviere en die bou van parke.

Terwyl die presidente aan hul etes smul, wat teen daai pryse eenvoudig uitsonderlik móét, het ek gaan kyk na watter ander etes sulke pryse regverdig.

Vreemd genoeg is dit wat gewoonlik as kitskos beskryf word, heel bo aan die lys. Soos die U$25 000-taco by Grand Velas, Los Cabos in Mexiko.

Dié taco bestaan uit kreef, Kobe-bief, Almas Beluga-kaviaar en swart truffel-brie. Selfs die salsa is besonders: Dit bestaan uit Morita-rissies, Ley.925 ultra-premium tequila en sivietkoffie.

As pizza eerder jou ding is, kan jy altyd Renato Viola se meesterlike pizza in Italië beproef – teen U$9 710. Daarvoor word dit darem in jou huis voorberei, mits jy in Italië woon. Terwyl dit nie vreeslik groot is nie, net 20 cm in deursnee, bestaan die toppings onder meer uit kreef, kaviaar en garnale, en word dit met ’n skaars konjak en sjampanje bedien.

Steeds op die kitskosspyskaart is Fluer in Las Vegas se spesiale U$5 000-burger. Dit word met ’n bottel 1995 Chateau Petrus 5000-wyn bedien, wat gewoonlik in elk geval soveel kos.

Dis soos ’n happy meal vir rykes.

Vir nagereg, maak ’n draai by Serendipity 3 in New York vir die Golden Opulence Sundae teen U$1 000 vir roomys met 23 karaat se bladgoud bo-op.

Of wat van Scoopi in Dubai se Black Diamond-roomys teen U$816, wat uit vanieljeboontjieroomys uit Madagaskar, saffraan, swart truffels, en goudvlokkies en -poeier van 23 karaat bestaan.

Ten minste kan jy die goue, handgemaakte bakkie en silwer lepel waarmee dit bedien word, huis toe vat.

As jy eerder ’n souttand is, oorweeg dalk Berco-springmielies. Kliek op hul webwerf en jy kan jou lippe oor ’n nabyskoot van hul Billion Dollar Popcorn lek. Dalk sou jy dink U$5 vir springmielies is nie te sleg nie . . .

Tot jy besef dis per mieliepit!

Nee wat, gee my eerder ’n lekker Namibiese steak wat oor die kole getrek is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!