Kombat-myn heropen in Desember vanjaar
Die Kombat-myn, wat sedert 2008 nie operasioneel is nie, sal later vanjaar onder die nuwe eienaarskap van Trigon Metals heropen en beoog om sowat 300 mense in diens te neem.
Ester Kamati op Kombat – Die Kombat-myn, wat die afgelope 13 jaar gesluit was, sal volgens die nuwe bestuur in Desember vanjaar heropen.
Die myn het 'n hernude mynlisensie verkry, sowel as verbintenisse vir finansiering, terwyl die teenwoordigheid van langdurende mineraalhulpbronne ook bevestig is.
Mnr. Sydney Garoeb, die bestuurder van tegniese dienste van Trigon Metals, die nuwe eienaars, het gesê dit is nou 'n goeie tyd om weer die myn oop te maak, want koperpryse is nou hoër as wat dit die afgelope tien jaar was.
Die Kombat-myn is al 45 jaar, sedert 1962, operasioneel en het in 2002 van eienaarskap verander vanaf Ongopolo Mining na Weatherly International tot dit in 2008 gesluit is. Volgens statistiek van Trigon Metals is gedurende hierdie tydperk sowat 12,46 miljoen ton minerale, waarvan 2,46% koper, 1,55% lood en 18 gram silwer per ton, ontgin.
Garoeb het bevestig die daling in koperpryse het 'n beduidende rol in die sluiting van die myn in 2008 gespeel, aangesien verkope nie die beleggingswaarde opgelewer het nie. Daarbenewens was daar 'n kwessie oor waterbestuur wat ondergrondse oorstromings veroorsaak het en dit het gelei tot die sluiting van Kombat se ondergrondse mynaktiwiteit.
Trigon Metals het in 2012 eienaarskap van die myn oorgeneem en het sedertdien met aktiwiteite by die myn begin met beskikbare bestaande infrastruktuur met die oog op die heropening. Dié infrastruktuur sluit onder meer 'n 800 meter mynskag, twee vertikale skagte en twee afwaartse skagte met hellingstelsels in.
“Die projek is gereed en aktiwiteite vir die heropening is reeds aan die gang,” het Garoeb gesê.
Dié aktiwiteite sluit in die opknapping van die fabriek- en kantoorruimte, terwyl die aanstelling van voltydse personeellede onderweg is. Die bestuur beoog om sowat 300 mense in en om Kombat in diens te neem.
Tydens die eerste fase van heropening in Desember word 'n oopgroefmyn beoog om sowat 30 000 ton per maand te myn met 'n lewensduur van vyf jaar.
Trigon Metals beplan om in 2023 met fase 2 te begin en dié fase behels ondergrondse mynbou wat die maatskappy hoop om produksie tot sowat 60 000 ton per maand op te stoot. Die lewensduur van die myn vir fase 2 is tien jaar en in hierdie fase kan moontlik sowat 1 000 mense in diens geneem word.
“Ons begin met oopgroefmynbou wat dan geleidelik deur ondergrondse mynbou vervang sal word, omdat ons hoër grade (minerale) ondergronds het as op die oppervlak,” het Garoeb verduidelik.
Hy het bygevoeg met oppervlakmynbou word 'n gemiddelde graad van 1,2% koper verwag, terwyl dit 3,3% ondergronds is en dit neem toe hoe dieper die bedrywighede gaan.
Trigon besit 80% van die myn, terwyl die staatsbeheerde Epangelo Mining Company 10% aandele het en 10% aan Knowledge Kati se Havana Investments behoort.
Kapitaalkoste vir fase 1 is sowat US$9 miljoen (N$129,69 miljoen), terwyl fase 2 US$22 miljoen (N$317,02 miljoen) beloop.
Mnr. Fanie Muller, operasionele visepresident, het gesê projekte vir maatskaplike verantwoordelikheid soos 'n gemeenskapstuin is ook vir die myn 'n prioriteit.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie