Kombat produseer weer koper

Volle produksie van 30 000 ton ’n maand teen einde Maart
Augetto Graig
Augetto Graig - Die Kombat-kopermyn is weer in produksie en die eerste koperkonsentraat sedert 2008 is op 30 Desember 2021 vervaardig, net voor die 31 Desember-teikendatum en ten spyte van vertragings in die verskeping van toerusting weens die pandemie.

Volgens Trigon Metals se bestuurder vir mynbou-ondersteuning, mnr. Sam Januarie, was dit ’n mylpaal en is dit belowend dat die aanleg nou op die vervaardiging van konsentraat volgens bepaalde spesifikasies kan fokus.

Trigon het die prestasie Woensdag wêreldwyd bekendgemaak, met ’n aankondiging dat spanne deur die Kerstyd gewerk het om die sperdatum te haal. “Die konsentraat wat vervaardig is, het die verwagtinge van die bestuur oortref. Dit wys die gekombineerde gebruik van nuwe toerusting van die Chinese vervaardiger, Xinhai, en opgeknapte toerusting van vroeëre mynboubedrywighede werk goed,” skryf Trigon se president, mnr. Jed Richardson.

Volgens Richardson kon bykans 20% koper en meer as 600 gram per ton silwer vervaardig word, wat meer is as wat in daardie stadium verwag was.

“Produksie duur voort in die aanloop tot die eerste verskeping van konsentraat teen die einde van Januarie 2022,” sê hy. Volle produksie word teen Maart verwag, namate die myn meer erts lewer en stelsels verbeter word, verduidelik hy verder.

“Hierdie eerste produksie is 'n geweldige mylpaal vir die maatskappy, die Kombat-gemeenskap en ons aandeelhouers. Die suksesvolle vervaardiging van koperkonsentraat verminder die risiko vir die myn. 'n Werkende meule is die primêre tegniese struikelblok in 'n myn se werksaamhede, en daardie hekkie is by Kombat oorkom,” sê hy.

Januarie sê dis nou die aanleg se prioriteit om bestendige produksie te behou en teen volle kapasiteit die volle produksie van 30 000 ton per maand te bereik.

“Ons is nou die enigste kopermyn in produksie in die land; die ander is almal op sorg en onderhoud,” sê hy.
Skietwerk elke Donderdag vergroot die oopgroefmyn waar 300 Namibiërs werksaam is, insluitend werknemers van die kontrakteur Tulela, subkontrakteurs en diensverskaffers.
“Ons is nét Namibiërs, van bo tot onder,” sê Januarie van die plaaslike werksmag.

Omdat hulle bogronds en bo die watervlak mynbou bedryf, is die vorige gevaar van oorstromings in die ondergrondse skagte nie ’n probleem nie. Januarie sê die water vir die aanleg word uit die skagte gepomp en voorsien ook die dorp en nabye boere, terwyl NamWater se kanale dit ook verder versprei.

“Kombat is die gemeenskap waarin ons werk. Ons werksmag is mense van Kombat. Ons verskaf werk. Ons begin nog klein en kan nie almal aanstel nie, maar ons is nou die grootste werkgewer in hierdie omgewing,” sê Januarie.

Die maatskappy het ook ‘n gemeenskapstuin begin waaruit deelnemers geld verdien, van die produksie kry en in die opbrengs deel.

Algemene werkers is uit die inwoners aangestel en Januarie sê die myn help ook met onderhoud van die dorpie se rioolpompe, terwyl hulle ’n rekenaar en ’n watertenk vir die skool geskenk het.

“Ons is nie betrokke by die administrasie van die dorp nie,” maak hy duidelik. “Die dorp val onder die Otavi-kiesafdeling. Dis nie meer deel van die myn nie. Ons help waar ons kan, soos met die skoonmaakveldtog aan die begin van Desember.”

Trigon Metals is genoteer op die Toronto-aandelebeurs se TSX Venture Exchange en op die Frankfurt-aandelebeurs. Die myn behoort 80% aan Trigon, met die staatsonderneming Epangelo en Havana Investments wat elk 10% aandele het.

Mnr. Knowledge Katti is die hoofaandeelhouer van Havana Investments.

Katti het Woensdag op sosiale media die gemeenskap van Kombat gelukgewens met die myn se eerste produksie. “Die visie is duidelik. . . om die gemeenskap op te hef uit armoede en moontlikhede en voorspoed te skep,” het hy op Facebook gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 20° | 32° Oshakati: 22° | 31° Ruacana: 21° | 33° Tsumeb: 21° | 32° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 19° | 33° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 24° | 34° Mariental: 24° | 36° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 21° | 34° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 25° | 39° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 18° | 23° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 15° | 23° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 17° | 34° Lilongwe: 23° | 34° Maputo: 21° | 29° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 18° | 28° Durban: 20° | 24° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!