Komeet Atlas bring dalk skouspel
Komeet Atlas bring dalk skouspel

Komeet Atlas bring dalk skouspel

Hoewel sterrekundiges skepties is oor of C2019 Y4 ons son se hitte sal oorleef, meen hulle die komeet kan een van die helderstes in jare wees om te sien.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Namibiërs sal moontlik van die tweede helfte van Mei af soggens en voor sonsonder die helder Atlas-komeet kan sien.

Dis nou mits dié besoeker vanuit die buitenste ruim ons son se hitte oorleef.

Buiten dat die komeet, ook bekend as C2019 Y4, ’n helderheidsgraad van +5 kan hê, sê die Namibië Wetenskapvereniging se afdeling vir astronomie hy kan ook ’n sigbare stert hê omdat hy naby aan die son sal beweeg.

Wetenskaplikes meen indien die komeet oorleef, kan hy een van die helderstes in jare wees om te sien – selfs helderder as die planeet Venus – wat beteken hy sal bedags ook sigbaar wees.

“Komeet Atlas word voortdurend helderder – en ook baie vinniger as verwag,” het mnr. Karl Battams van die Naval-navorsingslaboratorium in Washington DC onlangs aan media gesê.

“Van die voorspellings oor hoe helder dit gaan raak, grens nou bykans aan die absurde,” sê hy.

“Tans stel hy egter groot hoeveelhede gevriesde gasse vry. Dit is waarom hy so vinnig helderder word,” het Battams gesê.

Hy verwag ongelukkig dat die komeet nie sal oorleef nie, juis omdat hy reeds “oorpresteer”.

Wetenskaplikes het nie verwag die komeet sal nou reeds, sowat twee maande voor hy sy naaste punt aan ons son bereik, warmer en helderder begin raak nie.

Die wêreldwye komeet-waarnemingsdatabasis wys Komeet Atlas se helderheid het sedert Februarie reeds vierduisend keer toegeneem.

Volgens die databasis kan hy dalk vroeg in April reeds sigbaar vir die blote oog wees.

Die Amerikaanse ruimteagentskap (Nasa) se ruimtetuie wat daarin spesialiseer om items naby aan die son af te neem, sal die komeet van middel Mei tot vroeg in Junie dophou en op kamera vaslê as hy disentegreer.

Wetenskaplikes meen Komeet Atlas sal net oorleef indien hy oor ’n groot kern met baie reserwes van gevriesde gas beskik.

Dán sal hy ’n baie helder komeet wees, maar andersins sal sy gas opraak en kan hy verkrummel en dowwer raak soos hy nader aan ons son beweeg.

Die komeet is so onlangs as Desember verlede jaar in Hawaii deur ’n waarskuwingstelsel vir asteroïde, genaamd Atlas, ontdek.

Berekeninge het bevestig die komeet sal op 31 Mei vanjaar tot diep binne Mercurius se wentelbaan beweeg en naby aan ons son verbyvlieg.

Indien hy die skroeiende hitte kan oorleef, sal die komeet vir ’n skouspel vir aardlinge sorg.

Komeet McNaught (C/2006 P1) het sowat 13 jaar gelede ook naby ons son verbybeweeg en was selfs smiddae sigbaar.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!