Komeet Neowise kort ná sononder sigbaar

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Die komeet Neowise (C/2020 F3) is tans, met behulp van ‘n verkyker of teleskoop, in die suidelike halfrond kort ná sononder sigbaar.

Die Astronomie Vereniging van Suider-Afrika het pas gesê hulle ontvang tans verskeie verslae en foto’s vanuit Suid-Afrika van dié komeet.

“Dit is tans vir sowat ’n uur en ’n half ná sononder baie laag bo die noordwestelike horison te sien.

“Die komeet is nie met die blote oog sigbaar nie omdat dit te naby aan die horison is en ’n helderheidsgraad van slegs sowat +4 het. Dit maak dit ‘n moeilike teiken,” het die vereniging pas op hul Facebookblad gesê.

“Dit is egter sigbaar deur verkykers en teleskope. Die groeiende maan sal dit algaande moeiliker maak om die komeet te sien, veral wanneer dit teen 3 Augustus volmaan sal wees,” sê die vereniging.

“Sedert sowat 25 Julie het die komeet vir sterrekykers in die suidelike halfrond sigbaar geword . . . en sal dalk nog tot 5 Augustus gesien kan word,” sê die vereniging. Dit het ook ’n kaart verskaf van die pad wat die komeet na verwagting sal volg.

Intussen het Suidelike Kaap Astronomieklub foto’s van die komeet oor Walker-baai gepubliseer, terwyl dit ook die afgelope Sondag vanuit Johannesburg gekiek is.

Die komeet het sy naaste punt aan die aarde op 23 Julie bereik, toe dit tot so naby as 103 miljoen km gekom het, berig earthsky.org.

Die komeet het ook ’n gesplete stert en is die helderste wat van die aarde af gesien word sedert die 1990’s. Die vorige helderste komeet was komeet Hale-Bopp (in 1995 tot 1996).

Neowise, wat eers in Maart vanjaar ontdek is en sowat 5 km in deursnee is, sal oor sowat 6 800 jaar weer sy verskyning naby die aarde maak.

Volgens Nasa is dit tans sowat 111 miljoen km ver van die aarde en beweeg dit teen 231 000 km per uur.

Die komeet kan ook met behulp van toeps, soos SkySafari 6, opgespoor word.

Nasa se “astronomiefoto van die dag” op 22 Julie was dié een van komeet Neowise, waarin sy besonderse twee sterte duidelik waargeneem kan word. Die linkerkantste stert is ’n blou ioonstert wat, vanweë die sonwind, weg van die son wys. Die ander is ’n stert van stof, is verduidelik.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!