Komeet swel vinnig uit
Komeet swel vinnig uit

Komeet swel vinnig uit

Die komeet Atlas se atmosfeer het tot dusver 'n reusedeursnee van 720 000 km bereik.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Die komeet Atlas, ook bekend as C2019 Y4, is besig om vinnig uit te swel, en het intussen boonop 'n stert ontwikkel.

Spaceweather berig foto's van ­amateursterrekundiges oraloor die wêreld wys die deursnee van die komeet se atmosfeer is nou 'n enorme 720 000 km – bykans die helfte van die son se grootte.

Sy stert is amper net so groot.

Die Namibië Wetenskapvereniging se afdeling vir astronomie het onlangs gesê Namibiërs behoort die komeet van einde Mei af te kan sien – mits hy ons son se hitte oorleef.

Volgens berekeninge sal die komeet op 31 Mei vanjaar tot diep in ­Mercurius se wentelbaan inbeweeg en naby ons son verbybeweeg.

Indien hy die skroeiende hitte kan oorleef, sal die komeet aardbewoners 'n skouspel besorg.

Die wetenskapvereniging het die afgelope Woensdag gesê Atlas sal op ons breedtegraad onder die horison bly en eers sigbaar raak wanneer hy die ander kant van die son bereik, indien hy nie weens die son se hitte ontplof nie.



GROOTTE

Dit is steeds nie bekend hoe groot Atlas se yskern is nie, maar wetenskap­likes meen dit behels niks meer as 'n paar kilometer nie.

Dit is ook nie ongewoon dat 'n komeet so groot uitswel nie.

In die proses kan reusehoeveel­hede gas en stof in die ruimte ­ingeskiet word, berig Spaceweather.

In 2007 het die Holmes-komeet ­gedeeltelik ontplof en tydelik 'n ­atmosfeer groter as die son s'n gehad.

Tans is Atlas nog nie sigbaar met die blote oog nie, maar kan hy met eenvoudige teleskope gesien word.

Spaceweather berig die komeet raak toenemend helderder soos hy nader aan die son beweeg. Teen Mei kan hy so helder soos Venus wees en moontlik selfs bedags sigbaar wees.

Wetenskaplikes sê komete se gedrag is egter onvoorspelbaar.

Hulle meen Atlas sal net oorleef indien hy 'n groot kern met baie gevriesde gas het. Dán sal hy baie helder wees – andersins sal sy gas opraak en kan hy verkrummel en dowwer raak soos hy nader aan ons son beweeg.

'n Wetenskaplike verbonde aan die Naval-navorsingslaboratorium, mnr. Karl Battams in Washington DC, het onlangs aan die media gesê hy dink nie die komeet sal oorleef nie, omdat hy reeds “oorpresteer”.

Na raming kan die komeet vroeg in April reeds met die blote oog sigbaar wees.

Atlas is so onlangs as Desember verlede jaar in Hawaii deur 'n waar­skuwingstelsel vir asteroïde genaamd Atlas ontdek.

Die Amerikaanse ­ruimteagentskap (Nasa) se ruimtetuie wat daarin ­spesialiseer om items naby aan die son af te neem, sal die komeet van middel Mei tot vroeg in Junie dophou en op kamera vaslê as hy verbrokkel.

Komeet McNaught (C/2006 P1) het sowat 13 jaar gelede ook naby ons son verbybeweeg en was selfs smiddae sigbaar.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!