Kommandowurm kan Afrika kaal vreet
Miljoene mense in Afrika staar hongersnood in die gesig weens die herfskommandowurm wat hom op dié vasteland kom tuismaak het.
Ronelle Rademeyer - Die herfskommandowurm kan as nuwe indringerplaag in Afrika tot sowat 20,6 miljoen ton mielies per jaar verwoes en die kos uit 100 miljoen mense se monde neem.
Dié plaag is reeds in 35 lande op die vasteland aanwesig en het reeds tot oesverliese van US$13 miljard gelei.
TEEN INSEKDODER BESTAND
Me. Regina Eddy, beleidskoördineerder van die herfskommandowurm-taakspan in die Amerikaanse agentskap vir internasionale ontwikkeling (Usaid) se buro vir voedselsekuriteit, sê tussen 25 en 50% van mielieoeste kan jaarliks deur dié hardnekkige plaag vernietig word.
Sy het gister tydens ’n inbelkonferensie uit Amerika aan joernaliste in verskeie Afrikalande gesê anders as die Afrika-kommandowurm, is dié nuwe plaag teen die meeste insekdoders bestand.
Die vermoede is dat die mot op ’n vlug uit die Amerikas in Afrika aangekom en vandaar soos ’n veldbrand oor die vasteland begin versprei het.
“In Amerika is die wurm veral in die herfs aktief, maar die verwagting is dat dit in Afrika regdeur die lewensiklus van die mielieplant skade sal aanrig. Die klimaatstoestande in Afrika bied aan die herfskommandowurm die ideale toestande om te floreer en daarom verwag ons dat dit endemies gaan raak,” sê Eddy.
“In Afrika is nagenoeg 3 miljoen kleinboere vir hul oorlewing van mielies afhanklik. Behalwe dat hul voedselsekuriteit bedreig word, is hierdie mense se inkomste ook in die gedrang.”
Buiten mielies, val hierdie wurm ook sorghum, mahangu, rys, suikerriet, katoen en ander gewasse aan.
Eddy sê die goeie nuus is dat Amerika grootliks weet hoe om hierdie plaag te bestry en die kennis en tegnologie met regerings en ander belanghebbendes in Afrika kan deel.
“Deur saam te werk, kan ons Afrika bemagtig om hierdie uitdaging suksesvol te oorkom. Dit is belangrik dat boere dadelik reageer voor skade aangerig is,” sê sy.
Die drie stappe is om boere en voorligtingsbeamptes so goed as moontlik in te lig. Tweedens moet die deur oopgemaak word vir tegniese kundigheid en tegnologie om ongehinderd na Afrika te vloei en derdens moet goeie regulatoriese omgewings vir bestryding geskep word.
Daar is ’n reeks tegnologieë wat toegepas kan word. Dit sluit in biologiese opsies soos geneties gemodifiseerde gewasse (GMO’s) wat bestand is teen hierdie wurm, chemiese bestryding, ander insekte wat teer op die herfskommandowurm en die integrering van gewasse. Dit is byvoorbeeld wanneer bone tussen die mielies geplant word, aangesien vasgestel is dit verwar die herfskommandowurm en verminder sy aanslag.
Die Namibië Eenheid vir Vroeë Waarskuwing en Voedselinligting (Newfiu) sê in sy jongste oesverwagting- en voedselsekuriteitsverslag ’n herfskommandowurmplaag het opnuut vanjaar mielieplante op sekere plekke in die Noorde verniel.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie