Kommer heers oor droogte se nagevolge
Kommer heers oor droogte se nagevolge

Kommer heers oor droogte se nagevolge

Ronelle Rademeyer
Selfs al reën dit bogemid­deld baie in die volgende seisoen, gaan lewendehaweprodusente in Namibië en Suid-Afrika nog lank die spreekwoordelike bitter nasmaak van die uitgerekte droogte in die mond proe.
Die Namibië Landbou-unie (NLU) het in ’n onlangse nuusbrief aan sy lede gewaarsku teen kommerwekkende nagevolge waarvan baie eers in die jare ná die droogte gevoel gaan word.
Drukbemarking het gelei tot merkbare dalings in die lewendehawegetalle in beide Namibië en Suid Afrika. “Die nuutste statistiek uit Suid-Afrika toon ’n sterk afname in lewendehawegetalle in die tydperk Februarie 2013 tot Augustus 2015 aangesien ’n tekort aan weiding tot die wegmaak van groot getalle kuddediere gelei het,” sê die NLU.
Hierdie tendens duur steeds voort en die getalle sal waarskynlik eers stabiliseer wanneer die eerste goeie reën ná die wintermaande aangeteken word. Die geweldige styging in die koste om te voer, maak dit ook byna onmoontlik om groot getalle diere aan te hou voer tot die droogte se rug gebreek is.
Die NLU sê lewendehawegetalle in beide Namibië en Suid-Afrika sal mettertyd weer vermeerder, maar dit gaan teen ’n prys gebeur.
’n Groot tekort aan kuddediere sowel as slagbeeste en gevolglik vleis word voorspel namate die droogte tot ’n einde kom en dit sal tot skerp stygings in die prys van lewende hawe aanleiding gee.
Gevolglik gaan dit vir boere uiters moeilik wees om terug te keer tot hul oorspronk­like produksievlakke. Indien hulle daarin slaag, sal dit ook nie oornag gebeur nie.
Die verhoging in veegetalle na afloop van ’n droogte lei gewoonlik ook tot stygings in plaasskuld, en dit is reeds bekend dat beide Namibië en Suid-Afrika rekordvlakke in terme van hul totale landbouskuld beleef, sê die NLU.
Meatco het ook sy kommer uitgespreek oor die tydperk wanneer uiters min beeste ná die droogte beskikbaar sal wees om die reeds onderbenutte slagkapasiteit aan te vul.
Die druk op Namibië se lewendehawesektor om produksievlakke te handhaaf, het boonop al begin vóór die droogte in 2013 begin. Die hoeveelheid slagbeeste wat van die veld bemark word, het afgeneem en gevolglik word die wêreldklas-abattoirkapasiteit in die land onderbenut.
Saam met beeste, het ook die hoeveelheid skape wat jaarliks bemark word, oor die afgelope jare skerp afgeneem.
Buiten die droogte, het verskeie ander faktore op plaasvlak soos verbossing en roofdiere tot hierdie afname bygedrae.
Die NLU sê doeltreffende weidingsbestuur, dieregesondheid en goeie boerderypraktyke is faktore wat op plaasvlak meer aandag sal moet geniet. Die ­verskerping van ­inisiatiewe om ’n tasbare verskil te maak aan kritieke probleme soos verbossing, navorsing en inligtingverspreiding aan boere sowel as die ­ontwikkeling van meer doeltreffende waardekettings waar die boer ’n groter mate van beheer oor sy produk ­behou, is ook noodsaaklik. Dié unie wys egter daarop dat ondanks die uitdagings, steeds baie oorbly wat gedoen kan word om die volhoubaarheid van die bedryf te verseker.
Dit sluit in die nasionale weidingsprojek en die vereenvoudigde AgriStat-meetinstrument – beide inisiatiewe wat deur die NLU gedryf word om volhoubare produksie te verbeter.

Vleisraad oor bemarking
Volgens die Meat Cronicle van die Vleisraad het die bemarking van beeste van die begin van Januarie tot die einde van Maart vanjaar, teenoor die ooreenstemmende tydperk in 2015 met 24,5% afgeneem.
Verlede jaar is 101 276 beeste in daardie tyd bemark, teenoor net 75 577 vanjaar.
Hiervan is 64%, of 48 248 beeste, lewend na Suid-Afrika uitgevoer teenoor die 68 651 beeste in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.
Wat die bemarking van skape betref, was die afname selfs groter en is 35,3% minder diere, oftewel 136 645, in die eerste drie maande van vanjaar bemark.
Verlede jaar is 211 169 skape tussen 1 Januarie en 31 Maart bemark.
Verder is 59 785 skape, of 44% van die totale bemarkingsgetal, in die eerste drie maande van vanjaar lewend na Suid-Afrika uitgevoer.
Dit blyk verder dat Namibië se uitvoerabattoirs vir skape steeds minder as 80% van hul kapasiteit slag.
Die Vleisraad wys verder daarop dit is dringend noodsaaklik dat die bemarkingskrisis in die noordelike kommunale gebiede ná die sluiting van die abattoirs op Oshakati en Katima Mulilo, opgelos word deur nuwe operateurs vir die abattoirs te vind.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!