Kommer laai op oor vlaag van hondediefstal
Kommer laai op oor vlaag van hondediefstal

Kommer laai op oor vlaag van hondediefstal

Kusbewoners is bekommerd daaroor dat ‘n toename in hondediefstal die werk van hondgevegsindikate kan wees.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die Swakopmundse Dierebeskermingsvereniging (DBV) waarsku honde-eienaars teen ‘n vermeende sindikaat wat die afgelope twee maande glo besonder aktief aan die kus is en honde steel.

Dit volg ná twee jong seuns op 1 Maart vroegoggend met ‘n gesteelde babahondjie betrap is en later deur die polisie weer in hul ouers se sorg gelaat is.

Die seuns, wat glo al herhaaldelik met gesteelde honde in hul besit gevind is, beweer die hondjie was na Angola op pad.

Hulle het gesê die hondjie moes Vrydag van Swakopmund af Otjiwarongo toe gaan en van daar af Angola toe om aan hondegevegte deel te neem.

Me. Theresa Badenhorst, woordvoerder van Swakopmund se DBV, het aan Republikein gesê kinders word vermoedelik deur die sindikaat ingespan om veral snags of wanneer eienaars bedags by die werk is, honde te steel.

Sy het bevestig en die aantal vermiste diere het veral die afgelope twee maande toegeneem.

“Veral sterk honderasse soos veghonde, bulhonde, rottweilers, boerboele en Duitse herdershonde word glo geteiken, terwyl enige babahondjies en katte ook gesteel word om as lokaas tydens gevegte te dien,” het sy gesê.

“Die afgelope week is drie gevalle van hondediefstal by ons aangemeld. Gelukkig is twee honde intussen gevind danksy die samewerking van honde-eienaars en die polisie,” het Badenhorst gesê.

Een van die honde wat tans vermis word, is ‘n bruin veghond met ‘n wit bors, genaamd Diesel.

Dié hond se eienaars het ‘n beloning van N$10 000 uitgereik vir enigiemand wat hul hond aan hulle terugbesorg.

PLAASLIKE HONDEGEVEGTE

Badenhorst sê hondegevegte word beslis ook plaaslik gehou.

“Ons het twee weke gelede inligting ontvang dat hondegevegte op Swakopmund gaan plaasvind, maar toe ons die plek besoek waar dit moes plaasvind, was daar geen teken van so iets nie.

“Ons hande is afgekap; sonder die polisie het ons min mag. Ons ontvang ook baie hulp van die buurtwag en die publiek,” het sy gesê.

Sy sê hulle hoor elke paar maande van hondegevegte in byvoorbeeld Mondesa, maar teen die tyd wat hulle daar aankom, is daar geen teken meer daarvan nie.

Sy sê sodra honde gesteel word, word hulle dikwels vermom deurdat hul pels met gewone haarkleursel gekleur of gebleik word.

Terselfdertyd word die gesteelde honde voortdurend van een plek na ’n ander geskuif tot die vermeende diewe gereed is om hulle elders heen te vervoer.

STERILISEER HONDE

Badenhorst sê dit is baie belangrik dat honde-eienaars hul diere steriliseer.

“Ongesteriliseerde honde is gewild, want hulle is aggressiewer en daar kan met hulle geteel word. Voorsien jou hond ook van ‘n mikroskyfie,” het sy gesê.

Volgens die DBV word gesteelde honde soms vir so min as N$50 verkoop – vir vinnige geld.

Hulle raai honde-eienaars aan om babahondjies nie buite te los wanneer hulle nie tuis is nie, en om slotte aan hul hekke te sit.

Honde-eienaars moet seker maak hul honde kan nie by erwe uitkom nie.

Mense wat vermoed hul troeteldier is gesteel, moet dit onmiddellik by die DBV, polisie en buurtwag aanmeld en selfs al is die diere opgespoor, moet sake steeds by die polisie aanhangig gemaak word.

Die DBV moedig mense aan om hulle te met enige inligting oor hondediewe of –gevegte te kontak.

Identiteite sal beskerm word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!