Kommer oor beleggings in groenkrag stagneer
Kommer oor beleggings in groenkrag stagneer

Kommer oor beleggings in groenkrag stagneer

Francois Williams – In ’n onverwagse afwyking van die tendens van die afgelope twee dekades het beleggings in hernubare energie verlede jaar begin stagneer.

Dit blyk uit die jongste syfers van die Internasionale Energie-agentskap (IEA).

Die netto kragopwekkingsvermoë wat hernubare energie in 2018 tot die wêreld se kragpoel bygedra het, is net soveel as in 2017.

Die 2018-syfers is baie kommerwekkend, sê dr. Fatih Birol, uitvoerende direkteur van die IEA. “Die wêreld kan nie bekostig om die ‘pouse’-knoppie te druk van die uitbreiding van hernubare energie nie, en regerings sal vinnig moet optree om die situasie reg te stel.”

Volgens Birol het hernubare energie ’n groot rol om te speel om die wêreld se kweekhuisgasvrystellings in toom te hou. Die kragopwekkingsvermoë van hernubare energie sal van nou tot 2030 met gemiddeld meer as 300 gigawatt (GW) per jaar moet groei om die teikens van die Parys-ooreenkoms te haal, volgens die IEA se volhoubare ontwikkelingscenario’s.

Dit het verlede jaar egter met net sowat 180 GW gegroei, wat dieselfde as in 2017 is. Dit sluit netto nuwe kragopwekkingsvermoë van fotovoltaïese sonkrag, windkrag, hidroëlektrisiteit, bio-energie en ander groenkragbronne in.

Die wêreld doen nie genoeg nie, volgens die IEA se ontleding. Verlede jaar het energieverwante koolsuurgasvrystellings met 1,7% tot ’n hoogtepunt van 33 miljoen ton gestyg.

Birol sê as gevolg van dalende koste is die mededingendheid van hernubare energie nie meer so swaar aan finansiële aansporings gekoppel nie. Hulle het hoofsaaklik stabiele beleid nodig, gesteun deur ’n langtermynvisie. Beleid wat eers stop en dan weer begin, is skadelik vir die markte en werkskepping in dié bedryf. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer