Kommer oor beweerde polisiebrutaliteit
Kommer oor beweerde polisiebrutaliteit

Kommer oor beweerde polisiebrutaliteit

NamRights sê burgers is nie veilig in polisieaanhouding nie.
Catherine Sasman
Catherine Sasman – Die menseregteorganisasie NamRights sê hy is toenemend bekommerd oor die wydverspreide bewerings van marteling en ander wrede, onmenslike behandeling wat deur lede van die Namibiese polisie en ander ondersteunende wetstoepassingsagentskappe teen gewone burgers gepleeg word.

Mnr. Phil ya Nangoloh, NamRights se uitvoerende direkteur, sê die organisasie het rede om te glo daar is prima facie-bewyse dat burgers in die algemeen se veiligheid in polisieaanhouding al minder gewaarborg is.

Volgens hom moet “dringende en uitsonderlike maatreëls” ingestel word om burgers se regte te beskerm.

Ya Nangoloh het ‘n beroep op Nampol se inspekteur-generaal, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, gedoen om spoedig ‘n deeglike en onpartydige ondersoek na beweerde voorvalle van stapel te stuur en die skuldiges tot verantwoording te roep.

NamRights is veral bekommerd oor vier voorvalle wat glo in die laaste twee weke plaasgevind het. Op 12 Oktober is mnr. Zakonenua Ndiaombe dood terwyl hy in ‘n mediese fasiliteit op Tsumeb in polisieaanhouding was.

Ndiaombe is op 25 September saam met drie ander verdagtes vir beweerde renosterstropery en/of onwettige handel verskeie kilometer suid van die Oshivelo-veeartsenykontrolepunt in hegtenis geneem.

NamRights beweer die vier verdagtes is mediese hulp geweier, ondanks ernstige beserings wat hulle tydens polisieondervraging opgedoen het.

Ndiaombe is op 12 Oktober ná NamRights se ingryping vir mediese behandeling geneem, maar dit was reeds te laat.

Die menseregteorganisasie beweer ‘n 15-jarige meisie, wat glo verstandelik gestrem is en wat in ‘n sogenaamde “kamer vir slagoffers” by die Oshikango-polisiekantoor gehou is, is deur ‘n polisiebeampte verkrag.

Die meisie is glo na die polisiekantoor gebring ná sy deur ‘n oom verkrag is.

Die betrokke polisiebeampte is in hegtenis geneem en aangekla, het in die hof verskyn en is borgtog geweier.

Volgens NamRights word hy óf by die tronk op Oluno óf in polisieselle naby die Etayi-kiesafdeling se kantoor in die Omusatistreek aangehou.

In nog ‘n geval is ‘n onbekende Angolese man na wat verneem word deur ‘n polisiebeampte met die naam “Shorty” of “Shaanika” doodgeslaan.

Die Angolees het glo petrol onwettig aan die Namibiese kant van die grens tussen die twee lande verkoop.

Die betrokke polisiebeampte is in hegtenis geneem en van moord aangekla. Hy het reeds in die hof verskyn en is borgtog geweier. Hy word na bewering ook op Oluno of in die Etayi-kiesafdeling aangehou.

Ya Nangoloh het voorts verwys na mnr. Ishmael Benyamen se bewerings van ’n bendeverkragting in ‘n polisiesel in Windhoek wat wyd op sosiale media versprei is. Benyamen is op 28 September vir ‘n vermeende verkeersoortreding en/of dwarsboming van die gereg aangekeer.

Volgens NamRights is die bendeverkragting glo in opdrag van beamptes van óf die stadspolisie óf Nampol uitgevoer. Die voorval word tans ondersoek.

Nampol het die bogenoemde voorvalle bevestig en het beklemtoon die skuldiges sal gestraf word.

In die geval van Ndiaombe het die polisie se woordvoerder, hoofinsp. Kauna Shikwambi, gesê ‘n nadoodse ondersoek is op 19 Oktober uitgevoer om die oorsaak van sy dood te bepaal.

In die geval van die verkragting van die verstandelik gestremde meisie het Shikwambi gesê sy is 17 en nie 15 jaar oud nie en die verdagte het op 12 Oktober in die hof op Ohangwena verskyn.

Hy is borgtog geweier en moet op 26 November weer in die hof verskyn. Die verdagte in die moord op die Angolese man is ook agter tralies en verskyn op 26 September in die hof op Ohangwena.

Shikwambi het voorts gesê die polisie is bewus van die beweerde bendeverkragting in polisieselle in Windhoek.

‘n Strafregtelike klag is in dié verband by die eenheid vir beskerming teen geslagsgeweld in Katutura geopen.

Volgens haar duur die ondersoek voort en is ‘n verdere interne ondersoek teen die betrokke beamptes in ‘n gevorderde stadium.

Hoewel sy die bogenoemde voorvalle erken, het Shikwambi ook gesê polisiebeamptes is “ook mense” en daarom nie immuun teen “menslike foute” nie.

Sy het egter beklemtoon polisiebeamptes het onderneem om lede van die publiek met respek en beleefdheid te hanteer en vrede en orde te handhaaf.

Volgens Shikwambi sal die polisiehoof nie huiwer om direkte interne ondersoeke van stapel te stuur wanneer beamptes hulle “onbetaamlik” gedra nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!