Kommer oor Gordhan vra of stelsel nog werk

Spanning tussen die Suid-Afrikaanse minister van finansies en die land se inkomstediens het tot 'n woordestryd gelei wat kommer wek.
Estelle de Bruyn
Elvira Wood en Niel Joubert



'n Begroting is niks werd as daar nie geld is om dit uit te voer nie.

Juis daarom is dit “baie kommerwekkend dat die Suid-­Afrikaanse­­ minister van finansies, Pravin Gordhan, dit nodig ag om te vra of die belastingstelsel steeds werk”, het regter Dennis Davis, voorsitter van die Davis-komitee oor belastinghervorming, Vrydag in Parktown, Johannesburg, gesê.

Hy en Trevor Manuel, voor­malige minister van finansies, was sprekers op KPMG se bespreking oor die jongste nasionale begroting in Suid-Afrika.

Die hoogspanning tussen Gordhan en Tom Moyane, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het Vrydag tot uitbarsting gekom met Moyane wat op 'n nuuskonferensie in Pretoria gesê het Gordhan, “gil en skreeu” en maak “asof ek nie bestaan nie”.

Manuel het geen doekies omgedraai nie: “Dit gaan nou al amper soos die storie van die drie varkies. Ons het klaar die bakstene en klei gebruik en het nou net die strooi oor.

“Ons sal 'n plan moet maak om belasting beter in te samel en nie net koerse aan te pas nie,” sê hy.

“Of jy daarvan hou of nie, jy kan nie 'n begroting en 'n stel doelwitte hê as jy nie 'n konstante invloei van belasting het nie,” het Davis gesê.

“Jy kan nie eens 'n begroting opstel as jy nie weet waar die geld vandaan gaan kom nie.”

Manuel het ook herhaaldelik gesê daar moet gekyk word na hoe belasting ingesamel word en ook hoe dit later bestee word. “Al wat die begroting eintlik is, is 'n verklaring van wat met beleid bereik wil word en hoe dit binne finansiële hulpbronne pas,” sê Manuel.

Hy het verder gesê jy kan verskeie debatte oor die begroting voer, van wat die impak daarvan op 'n moont­lik afgradering op Suid-Afrika se kredietwaardigheid kan wees tot of die toekenning van geld aan verskillende bronne gepas is, maar “van die bietjie ervaring wat ek met die begroting het” gaan dit nie oor die begroting nie maar oor die hele stelsel en hoe dit behoort te werk”.

Gordhan het voor sy begrotingsrede Woensdag aan lede van die parlement gesê dit “gaan nie oor Gordhan en Tom Moyane nie. Hy is hoof van 'n fiskale instansie en my werk is om te kyk of hy doen wat hy veronderstel is om te doen.

“Die SAID is die administrateur van inkomste en moet sy werk só doen dat dit die staat se fiskale doelwitte ondersteun.

“Ek doen net my werk en hopelik sal hulle begin om hul werk ook te doen,” het Gordhan gesê.

Moyane het Vrydag 'n nuuskonferensie in Pretoria gehou om te reageer op kommer dat die SAID in die jongste fiskale jaar minder as verwag ingesamel het en oor 'n berig in Mail & Guardian oor die gespanne verhouding tussen Gordhan en Moyane.

Gordhan het vandeesweek kommer uitgespreek dat die SAID in die 2016-'17- fiskale jaar R30,4 miljard minder belasting ingesamel het as wat hy moes.

Volgens Moyane is dit “betreurenswaardig” dat Gordhan die inkomstetekort aangekondig het slegs vyf weke voor die einde van die fiskale jaar. Dit hou 'n ernstige bedreiging in vir die geloofwaardigheid van die SAID en kan nadelige gevolge inhou vir verdere insameling, sê hy.

Moyane sê die R30,4 miljard wat minder as begroot ingesamel is, is grootliks die gevolg van 'n swak ekonomie. Persoonlike-inkomstebelasting het “onderpresteer” en invoer het gedaal, wat minder belasting beteken.

“Druk op die ekonomie het natuurlik 'n invloed op die hoeveelheid belasting wat jy invorder, maar die vraag is of dit die enigste probleem is,” sê Davis.

“Dit is duidelik dat ons vir die eerste keer sedert die aanbreek van die demokrasie in 1994 nou op die administratiewe aspek van belasting moet fokus.” Peter Attard Montalto, ontleder van die beleggingsfirma Nomura, sê daar is “feitlik niks oor in die inkomstestoor” in Suid-Afrika se begroting nie.

“Toekomstige gate in die begroting en in groei is nou hoogs waar­skynlik,” sê hy. Daarom noem hy die begroting “papierdun”.

Volgens Montalto is die groeivooruitsigte in die begroting steeds te optimisties en moes die begroting meer gefokus het op moeilike besluite aan die bestedingskant en 'n inkorting van onreëlmatige besteding.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!