Kommer oor grootste dataskending nu00f3g in SA
Kommer oor grootste dataskending nu00f3g in SA

Kommer oor grootste dataskending nóg in SA

Kommer bestaan oor hoe dit gebeur het dat sowat 30 miljoen mense in Suid-Afrika se private inligting op die internet uitgelek is in wat die grootste dataskending nóg in die land genoem word.
Nellie Brand-Jonker - ’n Internasionale kundige oor dataskending, Troy Hunt, het op Twitter gesê: “Die Suid-Afrikaanse dataskending is een van die ergste wat ek al gesien het . . .”

Hy het vandeesweek eerste daaroor getwiet toe hy gesê het hy het inligting oor ’n baie groot dataskending getiteld “masterdeeds” wat inligting oor name, geslag, bevolkingsgroep en huiseienaarskap bevat.

Mense kan op sy webtuiste Have I been pwned? gaan kyk of hul data uitgelek is.

Hunt het by navraag verduidelik “iemand het ’n rugsteunkopie van ’n baie groot databasis gemaak wat ’n wesenlike deel van Suid-Afrika se bevolking bevat en het dit op ’n openbare webbediener gepubliseer.

“Iemand anders het dit in Maart gevind en dit aan my aangestuur.”

Volgens hom wil dit voorkom of die data aanvanklik in April 2015 daar gepubliseer is.

“Die data is eers vandag verwyder, wat beteken dit was in die openbaar vir twee en ’n half jaar.”

Hy het na ’n berig van die tegnologiemaatskappy iAfrikan.com verwys wat relevante inligting bevat.

Volgens iAfrikan.com het Hunt gesê hy ontvang daagliks lêers wat met dataskending verband hou, maar die een het hom opgeval omdat dit 27 GB groot was.

Die inligting bevat ook mense se huwelikstatus, ID-nommer, direkteurskappe, inkomste en werkgewer.

Dit bevat ook inligting oor mense wat reeds dood is.

Hunt het gesê daar is ten minste 30 miljoen mense se data in die dokument wat hy tot hede kon aflaai en 2,2 miljoen e-pos-adresse.

“Dit maak dit ’n droom vir iemand of ’n groep mense wat in identiteitsdiefstal handel dryf omdat hulle jou ID-nommer en kontakbesonderhede het, asook jou inkomste,” het iAfrikan.com berig.

iAfrikan.com het ook Woensdag ná speurwerk op die internet berig dit wil voorkom of die inligting van die kredietburo Dracore kom.

Hunt het aan iAfrikan.com gesê dit is ’n yslike volume data wat ingesamel is en oënskynlik sonder die eienaars se goedkeuring mense insae daarin gegee het.

“Dit mag dalk nog wettig wees . . . maar toe publiseer hulle die data op ’n webbediener wat absoluut geen beskerming het nie, en natuurlik is dit deur ongemagtigde mense gevind.”

’n Navraag is aan Chantelle Fraser, uitvoerende hoof van Dracore, gestuur wat net ’n outomaties reaksie teruggestuur het vir mense wat hulp benodig met GoVault om ’n e-pos na [email protected] te stuur. Sy het ook nie haar selfoon beantwoord nie.

Hunt het gesê hy is tans besig om die data weer te ontleed om meer akkurate inligting te kry oor hoeveel mense se inligting uitgelek is.

Hy het op Twitter gesê dit is nie ’n kuberkraker wat daaragter sit nie, dis “letterlik iemand wat hul databasis op die internet gepubliseer het”. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer