Kommer oor Swapo wat opposisie laat 'verhonger'
Volgens 'n opposisieleier weerhou die sentrale regering, onder bewind van die regerende party, finansiële steun van munisipaliteite waar hulle in die stof byt.
Jemima Beukes
Kommer is uitgespreek oor hoe die regerende party se sentrale regering plaaslike owerhede van fondse ontneem waar opposisiepartye óf alleen regeer of koalisieooreenkomste het.
Mnr. Nico Smit, tesourier-generaal van die Popular Democratic Movement (PDM), het die soeklig op dié kwessie laat val.
Volgens hom was dié situasie aan die orde van die dag by die Keetmanshoop-munisipaliteit wat in 2013 onder die beheer van die PDM se voorganger, DTA, was.
Met meer as 93 onafhanklike kandidate, 18 politieke partye en 13 politieke verenigings, wat op 25 November aan die verkiesings deelneem, is 'n soortgelyke situasie op die tafel, word gemaan.
Smit het daarop gewys verdeeldheid tussen opposisiepartye vererger die toedrag van sake.
“Dit maak dit baie moeilik as die opposisiestem so lelik verdeeld is dat jy in die meerderheid is, maar jy kan nie regtig regeer nie. Dit stel die regerende party en sy verteenwoordigers in staat om 'n ander politieke organisasie te nader om 'n koalisie te vorm wat sy greep versterk.”
Hy het toegegee hul plan om 'n groter koalisie met ander politieke partye te vorm, het klaaglik misluk.
Smit is egter vol vertrou dat opposisiepartye steeds 'n sterk kans staan om die meeste van volgende maand se stemme in te palm.
“Ek dink die opposisiepartye moet baie ernstige introspeksie doen en vasstel wat hul doel regtig is. Ons moet verenig om 'n sterker front teen Swapo daar te stel.”
TEN BATE VAN DIE MENSE
Die politieke ontleder prof. Ndumba Kamwanya sê die sterk mededinging wat tans in die politieke ruimte heers, sal Swapo noop om sy weë te wysig om meer vir kiesers te doen.
“Ek hoop dat selfs as Swapo van sy kiesafdelings verloor hulle dit nie as 'n politieke wapen sal gebruik om sommige politieke partye te onderdruk nie. Sou hulle dit wel doen, sal dit politieke selfdood wees, omdat dit indruis teen ons ontwikkelingsagenda.”
Die woordvoerder van Swapo, me. Hilma Nicanor, sê dit is onmoontlik vir Swapo om 'n plaaslike owerheid, wat nie onder hul beheer is nie, te laat verarm.
Sy het voorts gemeen dit is onwaarskynlik dat minderheidspartye ná aanstaande maand se verkiesings die septer sal swaai by plaaslike owerhede.
“Ek onthou Keetmanshoop-stedelik was natuurlik onder die beheer van die destydse DTA. As iemand in beheer is, verwag jy daardie persoon moet lewer en nie die blaam verskuif van hul treurige of afwesige dienslewering nie. Toe Swapo oorneem, kon jy die ontwikkeling sien op verskeie gebiede.”
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie