Kommissie se ondersoek klaar oor SA klasgelde
Ongeag wát die bevindings is van die Heher-kommissie oor die finansiering van hoër onderwys, verdere protesoptrede by universiteite is onvermydelik.
Kenners en studente-organisasies meen protesoptrede by universiteite in Suid-Afrika is nie verby nie. Hulle uitsprake kom te midde van bespiegelings oor wat regter Jonathan Heher se kommissie oor die finansiering van hoër onderwys bevind het.
Dié kommissie is gevra om ’n oplossing te vind vir onbekostigbaar hoë klasgeld, en het sy verslag in Augustus, amper ’n jaar ná die aanvanklike sperdatum, aan die president oorhandig. Nou, nadat registrasie vir die 2018- akademiese jaar reeds begin het, is daar steeds geen aanduiding van wanneer die verslag bekend gemaak sal word nie.
Prof. Flip Smit, onderwyskenner van Pretoria, sê die regering sal nie waag om die verslag voor die einde van die jaar bekend te maak nie, omdat dit waarskynlik protesoptrede sal ontketen, ongeag die bevindings. Studente dreig egter reeds met betogings as die verslag nie vinnig openbaar gemaak word nie.
“Dis al amper twee jaar en steeds het ons nie antwoorde nie. Ons is reg om te betoog indien die regering ons langer aan ’n lyntjie hou,” sê Yonke Twani van die studentevereniging Safetsa.
Daar is selfs organisasies wat eis dat die kommissie die ondersoek van voor af begin. “Instansies wat gekant is teen gratis onderwys, soos universiteite, het hoofsaaklik voorleggings gedoen en daar was nie ruimte vir die teenargument nie,” sê Hendrick Makaneta, direkteur van die Onderwysstigting vir Maatskaplike Geregtigheid (ESJF).
Universiteite hou ook asem op, want begrotings vir volgende jaar moet gefinaliseer word. “Dit is ’n onseker tyd vir universiteite, omdat hulle nie behoorlik kan beplan nie,” sê dr. Ahmed Bawa, hoof van die Universiteite Suid-Afrika-forum.
Francois Benade, van Unisa se finansiële afdeling, sê universiteite begroot vir drie tot vyf jaar. “As teen klasgeld besluit is, moet geskarrel word vir kontantvloei.”
Alex Mdakane van die Jong Kommunisteliga (YCL) sê daar word gegis die kommissie beveel gratis onderwys vir arm studente aan. “Dit is vir ons ’n werkbare kompromis, tog is daar dié wat sal bly betoog.”
Intussen het studente aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) verlede week die instelling ontwrig oor die universiteit se hantering van werkers se kontrakte. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie