Kommissie vra vrae oor Caprivi-kwessie
Kommissie vra vrae oor Caprivi-kwessie

Kommissie vra vrae oor Caprivi-kwessie

President gevra om te reageer
Gerine Hoff
Catherine Sasman - Die Afrika-kommissie vir Mense- en Volkeregte het pres. Hage Geingob gevra om beweerde, stelselmatige skendings van mense­regte en fundamentele vryhede in en om die Zambezistreek te ondersoek.
Die kommissie, wat in die Islamitiese staat van Gambië se hoofstad, Banjul, geleë is, het op 2 September in ’n brief wat aan Geingob gerig is, sy ingryping en versekering gevra dat die Namibiese regering duidelikheid sal verskaf oor dié kwessie en ook om homself van sulke skendings te “weerhou”.
Die voorsitter van die Caprivi Concerned Group (CCG), mnr. Lutamba Lutamba, het ’n klag by die kommissie ingedien oor beweerde menseregte­skendings deur die Namibiese regering. Onder meer word aangevoer die regering het tussen Maart en Junie 1999 wat voorheen as die Caprivi-strook bekend was, “onwettig beset en met geweld geannekseer”.
Die CCG eis voorts dat die regering sedert 1998 “growwe menseregte­skendings teenoor Capriviane pleeg, mense na willekeur teregstel, mense onder dwang verwyder, martel en onwettig aanhou, wat wys op onderdrukking deur die staat”.
Volgens die CCG het die Namibiese regering in 2004 en 2006 die registrasie van Caprivi-gebaseerde politieke­ partye soos die United Democratic Party (UDP), die Caprivi National Democratic Party (NDP) en die Candidature of National Unity (CaNU) verbied en verban.
Die CCG het geskryf dat voormalige eerste minister Nahas Angula in Julie 2012 “kompromie-oplossings” soos politieke dialoog en/of ’n referendum oor die politieke dispuut verwerp het. Die versoek vir kompromie-­oplossings is in Augustus 2015 vir ’n tweede keer verwerp, dié keer deur pres. Geingob.
Die CCG hou vol ter plaatse oplossings is nou uitgeput.
In die jongste voorlegging aan die kommissie beweer Lutamba hy is gedwing om ’n oorplasing na ’n ander skool in ’n afgeleë vloedgeteisterde gebied te aanvaar, maar voordat die verplasing gerealiseer het, het hy in April ’n brief van ontslag ontvang en het hy nog geen salaris gekry nie.
Lutamba het gesê nadat insp. genl. Sebastian Ndeitunga van die Namibiese polisie diegene wat “met die idee van ’n Caprivi-afstigting wil voortgaan” gewaarsku het dat hulle dieselfde behandeling sou ontvang as dié wat op aanklagte van verraad tronk toe gestuur is, het die voorsitter van die CCG, mnr. Retief Kangongo, spoorloos verdwyn.
Volgens berigte is Kangongo blykbaar in die Gerald Immigrasiesentrum in Francistown, Botswana, hoewel sy familie nie weet wat sy status is nie.
Lutamba eis voorts die CCG se leiers is deur “’n betroubare bron” ingelig die Namibiese regering het “’n moordbende opdrag gegee om veral CCG-leiers uit te wis, omdat hulle aan die Afrika-kommissie oor massagrafte verslag gedoen het”.
Die Afrika-kommissie vir Mense- en Volkeregte, komm. Pansy Tlakula, het gesê dit kan beskou word as ’n oorlogsmisdaad of ’n misdaad teen die mensdom.
Die CCG beweer die moordbende bestaan uit tien voormalige PLAN-vegters “wat glo dieselfde verantwoordelikheid gehad het tydens Namibië se vryheidstryd”, het Tlakula in haar brief aan Geingob geskryf.
Die CCG sê voorts die Caprivi is ’n betwiste gebied wat nie onder­hewig kan wees aan enige grensverdrag tussen Namibië en Botswana nie, hangende ’n wetlike en politieke oplossing.
Tlakula het geskryf die kommissie beroep hom op reël 98 van sy reglement van orde en reik dus voorlopige maatreëls uit “om onherstelbare skade te verhoed wat aan CCG-lede en die verteenwoordigde slagoffers aangerig word”.
Sy het gesê mits die CCG se beweringe­ gestaaf kan word, maak die Namibiese regering homself skuldig aan die skending van talle regte wat deur die Afrika-handves gewaarborg word, asook verskeie ander streek- en internasionale menseregte insluitend die Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte (ICCPR) en die Verdrag teen Marteling (CAT).
Tlakula het Geingob gevra om binne 15 dae van ontvangs van die brief aan die kommissie terugvoering te gee.
Die inhoud van die CCG se klagtes aan die kommissie asook Geingob se reaksie, sal tydens die kommissie se volgende gewone sessie bespreek word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!