Kommunale drou00ebland-mielieboere bekroon
Kommunale drou00ebland-mielieboere bekroon

Kommunale droëland-mielieboere bekroon

Namibië produseer al meer witmielies en het die vermoë om selfvoorsienend te wees.
Ronelle Rademeyer
Die beste droëland-mielieboere in die kommunale boerderygebiede is verlede week op Katima Mulilo deur die Akkerbouraad van Namibië (NAB) aangewys.

Mnr. Lifasi Munsu van die Sibbinda-gebied in die Zambezistreek is by dié geleentheid as 2018 se nasionale kommunale kampioenboer vir droëlandmielies aangewys.

Mnr. Lukatezi Kulobone van die Linyati-kiesafdeling, ook in dié streek, was tweede.

Hierdie kompetisie het in 2008 sy beslag gekry en is daarop gemik om produsente aan te moedig om goeie boerderypraktyke toe te pas sodat hulle hoër opbrengste kan hê. Hoe beter die oes, hoe meer mielies kan hulle bemark nadat hulle na hul eie huishoudelike behoeftes omgesien het, sê dié raad in ’n verklaring.

Mnr. Alufea Sampofu, goewerneur van die Zambezistreek, het die wenners tydens die toekenningsgeleentheid geluk gewens met hul harde werk.

Hy het boere in die streek aangemoedig om landbouvoorligtingsbeamptes te raadpleeg vir kundige raad oor die beste tipe saad en kunsmis om te gebruik.

“Ons moet ophou om op buurlandse staat te maak om ons van voedsel te voorsien. Die Zambezistreek het vrugbare grond en genoeg water en kan as een van die broodmandjies van Namibië dien wat voedselsekuriteit vir die land besorg,” het Sampofu gesê.

Tydens die beoordeling van die boere, word na die opbrengste, produksiemetodes en insette gekyk.

Gewas- en arbeidsbestuur, bemarking, finansiële bestuur en die boere se rekordhouding word ook in ag geneem.

Al die kommunale droëland-mielieboere van die Zambezi-, Kavango-Oos en -Wes, Otjozondjupa- en Omaheke kan hulle vir die kompetisie inskryf.

Die Zambezistreek sal vanjaar na verwagting 6 000 ton bemarkbare mielies oplewer.

Dr. Marina Muller, visevoorsitter van die Akkerbouraad, het tydens die geleentheid gesê Namibië voer tans meer witmielies in as wat hy self produseer.

Sy het egter die versekering gegee dat inisiatiewe van dié raad en die ministerie van landbou, water en bosbou om die situasie te verbeter, vrugte afwerp.

Namibië het in 2013-2014 altesaam 170 234 ton witmielies ingevoer en 36 694 ton self geproduseer. Vier jaar later in 2017, is 76 660 ton witmielies ingevoer en 50 483 ton self geproduseer, het sy gesê.

“Dit wys die potensiaal is daar vir ons as ’n nasie om produksie te optimaliseer en die situasie om te keer sodat ons selfvoorsienend kan wees,” was haar woorde.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!