Kompetisies bly heel jaar taboe

Die Swakopmunder word deur sy droom aangedryf om die 2021 Olimpiese Spele te haal.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Phillip Seidler, Namibië se onbetwiste oopwaterswemkoning, laat hom deur niks onderkry nie.

Hoewel alle swemkompetisies vir die res van die jaar gekanselleer is, laat Seidler van Swakopmund hom nie daardeur van stryk bring nie.

Seidler het vroeër vanjaar opslae by die Suid-Afrikaanse oopwaterkampioenskap gemaak.

Hy het verskeie groot name in die 10 kilometer vir ’n bronsmedalje uitgestof. Die vorige dag het hy vir die pret die 5 kilometer aangedurf en ook derde geëindig.

Oopwaterswem vereis nie net ’n gedissiplineerde atleet met ’n ysere wil wat geestelik taai gebrei is nie, maar ’n swemmer wat elke haal en beweging moet beplan om sy opponente te uitoorlê.

Die rateltaaie Seidler is ’n man wat op sy tuisdorp 20 ure en meer per week oefen.

Met beperkte toegang tot swembaddens in Swakopmund, oefen Seidler daagliks in die koue Atlantiese Osean.

“Ten spyte van ons grendelstatus, verloop my oefenprogram seepglad. My fiksheidpeil is tops, want ek oefen steeds 20 uur per week.

“Van Maandae tot Vrydae swem ek twee keer per dag vir meer as ’n uur vir ongeveer 8 km by die Mole in die see.

“Ek is soggens seweuur in die water en teen 14:00 duik ek weer vir my tweede swemsessie in.

“Ek sien op Maandae, Woensdae en Vrydae my biokinetikus om kragwerk in die gimnasium te doen.

“Ná my oggendswemsessies op Dinsdae en Donderdae roei ek tuis op ’n roeimasjien vir 25 minute.

“As ek nie lus is om by die huis te roei nie, spring ek by die Mole op my branderplank en roei na Myl 4 toe.

“Naweke vat ek af en durf die see op my branderplank aan. Maar as die branders te klein is om behoorlik te benut, steek ek my bergfiets in die pad en ry 50 kilometer,” verduidelik Seidler entoesiasties.

Hy het in graad 11 met oopwaterswem begin en aan die begin net oor 5 km meegeding.

Ná graad 12 het hy besluit om ’n professionele swemmer te word en op die tien kilometer begin fokus.

Die 10 km is tans die enigste oopwaterswemafstand by die Olimpiese Spele. Seidler is steeds vasbeslote om vir die 2021 Spele in Tokio te kwalifiseer.

Hy vertel wat dit vereis om ’n suksesvolle oopwaterswemmer te wees.

“Dit is uiters belangrik om geestelik taai, sterk en superfiks te wees om vir twee ure en langer in koue water tydens ’n kompetisie te kan swem.

“Dit verg etlike kilometers se swem elke dag om fiks en gebrei te bly. Om daagliks te oefen, word by die dag strawwer, want jou energie word by die minuut getap en dit takel jou liggaam en spiere af.

“Daar is egter nie ’n ander uitweg as om deur te druk en die pyn te verduur nie. Soms ontbreek motivering en die visie van jou droom, maar dit is belangrik vir sukses om deur te druk.

“Dit is van kardinale belang om ’n goeie ondersteuningsbasis te hê en hulp en motivering van mense om jou te kry.

Met so ’n veeleisende oefenprogram kan ’n atleet maklik die spoor byster raak as hy op sy eie probeer oorleef, sê Seidler.

Hy reken dit is ewe belangrik om gereeld vir mediese ondersoeke te gaan en ’n gesonde en gebalanseerde dieet te volg.

“Jare se konstante oefening het my liggaam opgebou en gewoond daaraan gemaak om 20 uur per week te sweet.

“Dit het baie tyd asook proefneming geverg om die regte balans te vind en te handhaaf.

“Om te kan aanhou en deurdruk wanneer ek baie moeg is, stel ek vir myself weekliks sekere doelwitte om te bereik en te jaag.

“Om my liggaam se vetpersentasie op net agt te hou, eet ek baie ProNutro en tonne van my Ma se gekookte kos.

“Sy is ’n gesoute kenner wat sorg dat daar genoeg proteïne en koolhidrate in my kos is om my energie hoog te hou. Dit is ook belangrik vir die spiere se herstelproses dat daar genoegsame proteïne in my dieet is.

“Om my hart gesond en sterk te hou, neem ek daagliks genoeg gesonde vette in om die pompie in puik kondisie te hou.

“Vir ’n oopwaterswemmer wat in die see oefen, is dit van kardinale belang om sy liggaamsvet nie laer as agt persent te laat daal nie.

“Jy het ekstra energiereserwes in die koue water nodig en as jy te min vet aan jou het, is jy vatbaar om maklik siek te raak.

“Dit gebeur soms dat ek uitgebrand en moeg voel. Dan laat doen ek toetse om te sien of ek een of ander tekort het wat aanvulling benodig,” het Seidler aan Republikein vertel.

Seidler het sewe opeenvolgende oorwinnings in die jaarlikse Pupkewitz Jetty Myl-kompetisie op Swakopmund behaal en spog met al die rekords vir dié byeenkoms agter sy naam.

“Ek geniet dit geweldig baie om elke Desember die Jetty Myl aan te durf. Al die jare se konstante oefening asook Desembermaande se ononderbroke werk, werp dan vrugte af as ek die see uitdaag.

“Gewoonlik vat swemmers en ander atlete Desembervakansies af, maar ek bly getrou oefen. Jy offer tyd saam met jou vriende op wanneer die res die feestelikhede geniet, maar dit is absoluut die moeite werd.

“Wat my natuurlik baie in die Jetty Myl help, is my kennis van die see en plaaslike toestande om jaar-na-jaar te presteer.

Seidler se Jetty Myl-rekord staan tans op ’n verstommende 18 minute 32 sekondes.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!