Kon Geingob meer vir SADC vermag?
Die Namibiese president se jaar as voorsitter van SADC het verlede week ten einde geloop.
Leierskap van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) is meer van 'n seremoniële posisie as 'n amp met aktief uitvoerende magte.
Daarom moet president Hage Geingob se termyn as SADC-voorsitter nie volgens die politieke waarnemer prof. Henning Melber in uitermate rooskleurige tinte gekleur word nie.
Geingob het op 17 Augustus 2019 in Dar es Salaam die voorsitterskap aan president John Joseph Pombe Magufuli van Tanzanië oorhandig.
Ná 'n jaar as leier van die streeksorganisasie kon Geingob terugkyk op die mylpale en struikelblokke. Ses verkiesings het in die periode plaasgevind en mag is in vyf lidlande oorgedra.
Die impak van klimaatsverandering – droogte en verwoestende siklone – eis toenemend sy tol. “Klimaatsverandering is 'n werklikheid en ons streek kan daarvan getuig,” het Geingob in sy slottoespraak as SADC-voorsitter gesê.
Die siklone Desmond, Enawo, Kenneth en Idai het wydverspreide vloede in die Comore-eilande, Mosambiek, Tanzanië, Madagaskar, Malawi en Zimbabwe veroorsaak. Swaar reën het ook nood in KwaZulu-Natal in Suid-Afrika geskep.
Hierdie storms het meer as 1 000 lewens geëis, sowat 3 000 mense is beseer, infrastruktuur beskadig, skole en gesondheidsfasiliteite verwoes, en meer as 800 000 hektaar se landerye vernietig. Meer as 3,3 miljoen mense is geraak en benodig kos, klere, verblyf, water, medisyne en sanitasie.
Volgens Geingob het SADC US$500 000 beskikbaar gestel om saam met betrokke lidlande en internasionale vennote ondersteuning aan slagoffers van sikloon Idai te verleen. Daar is ook 'n beroep vir nog US$323 miljoen se noodleniging gedoen. Terselfdertyd heers droogte in Angola, Botswana, Lesotho, Zimbabwe en Namibië. Namibië, Botswana en Lesotho het noodtoestande afgekondig.
Geingob het lidlande bedank vir hul ondersteuning en gesê die vermindering van rampgevare moet 'n prioriteit vir die streek bly. Die antwoord is volgens die Namibiese staatshoof volhoubare ontwikkeling, vroeëwaarskuwingstelsels, beter voorbereidheid, vinnige reaksie en groter bewustheid van voorsorg vir die gevolge van klimaatsverandering.
NUWE LEIERS
Geingob kon in sy toespraak met die teenwoordigheid van vyf nuwe staatshoofde by die jaarlikse vergadering spog.
Hulle is die Demokratiese Republiek die Kongo (DRC) se nuwe president, mnr. Felix Tshisekedi, president Andry Rajoelina van Madagaskar, prof. Peter Mutharika van Malawi, president Azali Assoumani van die Comore-eilande en Suid-Afrika se president Cyril Ramaphosa.
“Vir die eerste keer sedert onafhanklikwording het ons die vreedsame oordrag van mag in die DRK beleef, wat 'n nuwe era vir sosioëkonomiese voorspoed, vrede en politieke stabiliteit vir die land beteken. Demokrasie in die streek word werklik volwasse,” het Geingob gesê.
Reeds toe hy die amp as voorsitter aanvaar het, het Geingob gesê dit was belangrik dat ingrypings in die DRK, Lesotho en Madagaskar voor verkiesings plaasgevind het. SADC is volgens hom onder meer om hierdie rede een van die mees stabiele streke in Afrika.
Melber sê egter Geingob het nie so baie met hierdie prestasies te doen gehad as wat dit dalk mag lyk nie.
“In die algemeen is die voorsitterskap van SADC minder invloedryk as die indruk wat geskep word. Ek dink dit is meer van 'n persoonlike prestasie vir die persoon wat die amp beklee; een wat hy by sy persoonlike en sy land se reputasie kan voeg nie,” sê Melber.
“Om meer spesifiek oor die voorbeeld van die Mosambiekse vredesooreenkoms te wees: Dit was hoofsaaklik Switserland wat 'n deurslaggewende rol in die onderhandelinge gespeel het, ook deur sy ambassadeur Mirko Manzoni, wat die voorsitter was van die kontakgroep vir vredesonderhandelinge tussen die regering en Renamo. SADC, en sy voorsitter Geingob, was omstanders, maar nie 'bewegers' nie,” sê Melber.
Geingob het die vredesooreenkoms tydens die ondertekening daarvan op 6 Augustus in Maputo as 'n groot tree voorentoe beskryf. “'n Mens maak nie met 'n ou vriend vrede nie; 'n mens maak vrede met jou teenstander,” het hy by die geleentheid gesê.
SADC behartig sy werk gewoonlik deur middel van troikas, verduidelik Melber. Die troika word saamgestel uit die voormalige, huidige en toekomstige voorsitter, en werk dikwels parallel met die SADC-troika vir verdediging en veiligheid, wat op 'n soortgelyke wyse saamgestel word. “Dit beteken in baie gevalle – veral wanneer die bemiddeling van 'n geskil die betrokkenheid van albei liggame verg – is tot ses staatshoofde van SADC-lidlande betrokke,” sê Melber.
“Die individuele SADC-voorsitter het dus nie soveel enkelvoudige gesag as wat dit mag lyk nie en voer meer gereeld verteenwoordigende funksies uit.”
Geingob se betrokkenheid sal egter weens dieselfde redes nog tot volgende jaar strek, soos dit reeds die jaar voor sy aanvaarding van die voorsitterskap op 17 Augustus 2018 in Windhoek begin het.
In Lesotho was mnr. Cyril Ramaphosa die bemiddelaar, voordat hy president geword het. Om ander bemiddelaars te gebruik, is volgens Melber sinvol omdat dit om diplomatieke redes nie doeltreffend is vir 'n huidige staatshoof om die indruk te skep dat hy direk by lidlande se sake inmeng nie.
“Voorkeur word in sulke gevalle gegee aan afgetrede staatshoofde. Ek sou dus sê die rol van 'n SADC-voorsitter is redelik beperk, maar uiteraard word sy uitsprake opgemerk,” sê Melber.
VREDE EN ONTWIKKELING
In Namibiese konteks loop die beeld van 'n verenigde “Namibiese Huis” en samewerking om voorspoed vir almal te verseker soos 'n goue draad deur Geingob se presidentskap.
Dieselfde temas van stabiliteit en ontwikkeling is in sy toespraak met die aanvaarding van die SADC-voorsitterskap weerspieël. Hy het die belang van gesamentlike doelwitte en gedeelde voorspoed beklemtoon om die Afrika-unie (AU) se visie vir 2063 te verwesenlik: “'n Nuwe Afrika, die Afrika wat ons wil hê . . .”
Geingob het ook klem op nywerheidsontwikkeling, ekonomiese samewerking en streeksintegrasie geplaas. Daarvoor, het hy gesê, is sterk prosesse, stelsels en instansies nodig. Geingob het die vorming van 'n Afrika-wye vryehandelsgebied (AfCFTA) geprys. “Vandag staan ons by die kruispad as 'n streek en as 'n vasteland. Dit is tyd vir ons om 'n groot sprong vorentoe te gee deur die geleenthede in te span wat verskillende streke se waardekettings en die vierde nywerheidsrevolusie bied,” het hy gesê. “Sonder vrede en stabiliteit sal ekonomiese groei en ontwikkeling niks meer as 'n droom op die horison bly nie.”
In Julie 2019 het Geingob in Niamey, Niger, gesê SADC is 'n belangrike bousteen van die AfCFTA. SADC voldoen volgens Geingob volledig aan die vasteland se integrasie-agenda soos in die 1991 Abuja-verdrag uiteengesit. Twaalf lidlande is reeds sedert 2008 deel van 'n vryehandelsgebied en SADC het volgens Geingob ooreengekome planne vir industrialisering en finansiële insluiting; 'n raamwerk vir 'n sentrale staatseffektemark; 'n model om dubbele belasting te vermy, en 'n stelsel om dadelik oorgrenstransaksies te voltooi. Daar is ook 'n meesterplan vir die ontwikkeling van vervoerinfrastruktuur gebaseer op korridormodelle en eenstopgrensposte. Die Suider-Afrikaanse Kragpoel (SAPP) behels samewerking tussen 13 lande en 16 verskillende elektrisiteitsvoorsieners.
ZIMBABWE EN DRK
SADC se voortgesette stilte oor die situasie in Zimbabwe wys volgens Melber die swak plekke in die staatkundige organisasie se mondering.
“Dit is tekenend van die rol van SADC dat toe die beraad in die “Stad van Vrede” (Dar es Salaam) plaasgevind het, geen woorde van waarskuwing of kommer deur presidente Geingob of Magufuli geopper is oor die brutale geweld wat die dag voor dit in Harare plaasgevind het nie. Tydens sy jaar as voorsitter het SADC hoofsaaklik teruggedeins om in te meng, ondanks die agteruitgang van die menseregtesituasie in Zimbabwe,” voer Melber aan.
“SADC het ook geweier om standpunt in te neem oor die verkiesingsuitslae in die DRK, wat as gemanipuleer beskou is.”
Minstens het nie-ingryping volgens Melber nie geweld en konflik in die twee lande vererger nie.
“Maar dit is die algemene houding van SADC: Om grootliks ten gunste van regerings te bly en op die draad te sit,” sê hy.
Hierteenoor was bemiddeling in Lesotho volgens Melber baie aktief. Volgens hom het Suid-Afrika se direkte belang by stabiliteit in Lesotho beslis 'n rol gespeel. In Mosambiek was die vredesproses volgens Melber ook al goed op dreef.
“'n Mens kan daarom sê dit was 'n redelike stil jaar vir Geingob. Ek sal sê hy het nie uitsonderlik presteer nie. Hy het ook nie Namibië se internasionale aansien noemenswaardig verhoog nie. Gesien uit 'n ander perspektief, was dit 'n gemiste geleentheid,” merk Melber op.
Volgens hom geld dieselfde eintlik vir alle SADC-voorsitters weens die roterende aard van die posisie en die nadruk op formaliteite en “business as usual”.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie