Konferensie bekyk vooruitsigte vir landbou
Konferensie bekyk vooruitsigte vir landbou

Konferensie bekyk vooruitsigte vir landbou

Die nou reeds gevestigde vooruitskouingskonferensie vir die landbou vind oor twee weke in Windhoek plaas.
Ronelle Rademeyer
Die Namibië Landbou-unie (NLU) se vooruitskouingskonferensie vir die landbou wat sedert 2012 elke tweede jaar aanbied word, vind op 10 Oktober plaas.

Dit word by die Safari Hotel se konferensiesentrum in Windhoek aangebied. Die hoofdoel van die konferensie is om ’n platform vir die landbousektor teskep waar gesamentlik kwessies bespreek en inligting oor landbou-ekonomie, pryse en markte verskaf kan word.

Die sleuteldoen vanjaar is om idees te ontwikkel om groei in dié belangrike sektor aan te vuur. As die primêre sektor nie groei nie, kan geen bykomende werkgeleenthede geskep word om die landelike ekonomie te bevoordeel nie. Volgens die NLA sal die fokus wees “om die lae hangende vrugte in die vee-, akkerbou-, wild- en ander bedrywe” te identifiseer wat toekomstige groei sal aanspoor.

Teen dié agtergrond is vanjaar se tema “Vuur groei in landbou aan as grondslag vir werkskepping en waardetoevoeging”.

Die opening sal na verwagting deur die minister van landbou, water en bosbou, Alpheus !Naruseb, behartig word. Op sy beurt sal Junius Mungunda, hoof uitvoerende beampte van Standard Bank Namibië, ’n beleidperspektief gee oor besigheid wat die landbousektor raak.

’n Nuutjie vanjaar is die sessies vir kommoditeite soos grootvee, kleinvee, akkerbou, wild en toerisme met sprekers wat kortliks sal verduidelik wat die sleutelprobleme is en wat nodig is om groei in hierdie onderskeie kommoditeite te bevorder. Dié sessies word gelei deur verskeie plaaslike produsente en kundiges soos dr. Joggie Briedenhann (grootvee), Pieter van Schalkwyk (kleinvee), Michael Iyambo (akkerbou) en dr. Chris Brown (wild en toerisme).

Winsgewendheid sal deur die landbou-ekonoom en boer dr. Helmke von Bach onder die loep geneem word terwyl Arnold Klein die dag sal afsluit met ’n blik in die toekoms – hoe boerdery oor 15 tot 20 jaar van nou af daar gaan uitsien.

Die dag is gemik op alle produsente en belanghebbendes in die landboubedryf. Vir navrae of om plek te bespreek, kan Rina Hough by die NLU-kantoor gekontak word by [email protected] of 061 237 838.

Dit kos N$650 per persoon en sluit verversings en middagete in.

LPO- en NLU-kongresse

Die LPO-kongres word vanjaar op 9 Oktober en die NLU-kongres op 11 Oktober by die Safari Hotel gehou.

Die tema vir beide kongresse is “Die vereiste vir werkskepping en waardetoevoeging” en sluit by die die tema van die vooruitskouingskonferensie aan.

Die amptelike opening van die NLU-kongres vind tydens ’n ontbytgeselligheid plaas en die openingspreker is die besturende direkteur van AgriBank, Sakaria Nghikembua.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer