Konferensie gaan groen

Octavia Tsibes
Octavia Tsibes - Die amptelike opening van die sesde jaarlikse Model United Nations Namibia (MUNNAM)-konferensie in Windhoek het op 6 Junie plaasgevind.
Dit is in samewerking met die ministerie van onderwys, kuns en kultuur en MTN Business Namibia gehou.
Sowat 75 leerlinge uit die Khomas-, Erongo- en Otjikotostreek het verskeie lande as afgevaardigdes verteenwoordig gedurende die tweedag-konferensie.
MTN Business Namibia het, in samewerking met die Verenigde Nasies se inligtingsentrum in Windhoek, 'n platform geskep om onderwys in Namibië uit te brei. Dit vorm deel van MTN se maatskaplike toewydingsinisiatief.
"Deur middel van die model-VN-program raak ons die jeug, die voornemende ruggraat van Namibië, direk aan en bied aan hulle 'n onkonvensionele en interaktiewe opvoedkundige ervaring," het mnr. Keith Handura, bestuurder van finansies en administrasie by MTN Business Namibia, gesê.
MUNNAM het 'n volhoubare opvoedkundige program geword wat die jeug dwarsoor Namibië bevoordeel. Dit strook ook met die VN-stelsels se vierde doelwit vir volhoubare ontwikkeling (SDG), wat gehalte onderwys is.
"Die model VN-program is noodsaaklik om 'n volhoubare toekoms te skep, want onderwys vorm die grondslag om 'n volhoubare wêreld te skep," het me. Anthea Basson, hoof van die Verenigde Nasies se inligtingsentrum in Windhoek, gesê.
Sy sê verder die program is in staat daartoe om voorsiening te maak vir groeiende behoeftes soos onder meer die opstel van navorsingslaboratoriums en die aanbied van interessante inligtingsessies.
In ooreenstemming met die 17 Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDG's) sal hierdie jaar se MUNNAM- hoërskool-konferensie fokus op die volgende temas: "Benut die groen ekonomie om armoede uit te roei" en "Die verbetering van koördinasie in humanitêre reaksies op natuurrampe en ander noodgevalle".
“Hierdie onderwerpe strook met die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte, 'n globale aksieplan wat daarop gemik is om armoede uit te roei, die planeet te red en voorspoed vir almal te verseker teen 2030,' het me. Anita Kiki Gbeho, die VN-koördineerder en United Nations Development Fund (UNDF)-verteenwoordiger, gesê.
Sy sê verder die groen ekonomie hou verband met SDG 8, en verseker dat hulle hul ontwikkelingsdoelwitte redelik bereik, sonder om risiko's vir die omgewing in te hou.
"Ons weet bevolkingsgroei het 'n geweldige uitwerking op die beskikbaarheid van ons hulpbronne. Teen 2050 sal die wêreld twee keer soveel kos moet produseer as wat in 2000 vervaardig is, maar met dieselfde hoeveelheid grond en minder water. Ons kan nie ontwikkeling versnel of armoede uitwis as ons nie oplossings vir klimaatsverandering en rampe vind nie," het Gbeho gesê.
Die uiteindelike doel van die konferensie is vir die afgevaardigdes om oplossings vir kwessies te vind.
Die probleemoplossingsbenaderings, soos toegepas by internasionale konferensies, sal studente vertroud maak met verskillende diplomatieke vaardighede soos situasie-analise, argument-formulering, strategiese besluitneming onder druk, navorsingsondersoeke en professionele interpersoonlike betrokkenheid.
"Die Model VN is 'n buitemuurse aktiwiteit vir jongmense in Namibië en baie lande dwarsoor die wêreld wat die opvoedkundige vlakke van ons jongmense verbeter deur hulle 'n globale opvoedkundige ervaring te gee," het me. Sanet Steenkamp, die permanente sekretaris van die ministerie van onderwys, kuns en kultuur, gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!