Konferensie se planne vir vooruit boer
Voorstelle uit die landboukonferensie moet deel vorm van ’n strategiese dokument wat tans vir die nasionale landbou-voedselsektor geformuleer word.
Elvira Hattingh
Die bestuur van groenskemas volgens sakebeginsels, die ontwikkeling van die biomassa-bedryf asook steun aan die suiwel-, vark- en pluimveebedrywe is hoe die private sektor meen Namibië se landbou weer vooruit kan boer.
Mnr. Goliath Tujendapi, die Vleisraad se bestuurder van handel en strategiese bemarking, het op die konferensie terugvoering oor sleutelvoorstelle gegee wat tydens verskeie wegbreeksessies gemaak is. Die voorstelle moet eindelik deel vorm van ’n strategiese dokument vir die nasionale landbou-voedselsektor, wat tans met die steun van die FAO geformuleer word.
Dié spruit uit die landboukonferensie wat Woensdag en Donderdag in die hoofstad aangebied is met die tema “landbou, geskik vir die toekoms – robuust, veerkragtig en vinnig om te reageer”.
GROENSKEMAS
Konferensiegangers meen die private sektor is beter in staat om groenskemas markgedrewe en volgens sakebeginsels te bestuur.
“Onsekerheid bestaan oor die bestuur en eienaarskap van Groenskemas. Volgens bestaande beleid moet private beleggers gewerf word om produksie en die oordrag van vaardighede te verbeter. Tog het die regering intussen die bestuur van groenskemas oorgeneem,” het Tujendapi gesê.
“Groenskemas wat deur die regering bestuur word, staar bestuurskwessies in die gesig as gevolg van rompslomp en burokrasie, wat tot verminderde produksie en logistieke nagmerries lei,” meen konferensiegangers.
Hulle sê ook die kontrakvoorwaarde dat ’n openbare-private-vennootskap (PPP) vir groenskemas vir slegs 20 jaar aangegaan kan word, is te kort en maak dit nie ’n aanloklike belegging nie.
“Daar moet dringend besin word wat die mikpunt met ons groenskemas is, omdat dit sal bepaal of die private sektor daarby sal inkoop.
“As dit gaan oor opleiding en om kapasiteit onder kleinskaalboere te bou, sal die private sektor dalk minder belangstel. Hulle sal meer in kommersiële landbouproduksie belangstel,” is daar volgens Tujendapi in ’n wegbreeksessie gesê.
Tujendapi sê konferensiegangers meen private ontwikkelaars van groenskemas behoort egter ook volle beheer en outonomie oor sakebesluite op groenskemas te hê en moenie deur PPP-ooreenkomste voorgeskryf word nie.
Voerproduksie by groenskemas behoort ook met voerkrale en uitvoerabattoirs verbind te word, het Tujendapi gesê, sodat sinergie in die gewas- en lewendehawesektor geskep kan word.
Oor waardekettings vir gewasse het konferensiegangers uitgewys dat enige produksie wat nie markgedrewe is nie, op ’n mislukking afstuur.
Hulle meen ook ’n beter konneksie behoort tussen kleinskaalprodusente en die Landboubemarkings- en Handelsagentskap (Amta) se versamelpunte geskep te word, sodat produkte die eindverbruiker bereik, eerder as om by versamelpunte te land en nêrens het om verder te gaan nie.
WAARDETOEVOEGING
Oor waardetoevoeging en die ontwikkeling van landbounywerhede, meen konferensiegangers dat ru-materiaal dalk van buite Namibië bekom kan word, sodat daar plaaslik waarde toegevoeg word, voor dit weer uitgevoer word.
“Maatskappye soos Meatco en Namib Mills stel reeds ’n voorbeeld deur waarde by ingevoerde produkte te voeg, voor dit weer uitgevoer word. Voorbeelde van sulke produkte sluit in pasta en geblikte vleis,” het Tujendapi verduidelik.
Tydens die konferensie is ook gesê waardekettings ontsluit geleenthede vir die benutting van indringerbos in beide kommersiële en kommunale gebiede.
“Steun is dus nodig vir die ontwikkeling van hierdie waardekettings, terwyl navorsing oor die ontwikkeling van meer produkte uit indringerbos, ook noodsaaklik is.
“Nuwe toetreders tot die biomassabedryf moet steun ontvang om die Forest Stewardship Council-standaarde toe te pas. Ook moet plaaslike pluimvee-, suiwel- en varkboerderye beter steun ontvang,” is voorgestel.
GROND
Om die probleem van ’n gebrek tot toegang tot landbougrond te oorkom, meen konferensiegangers daar moet wegbeweeg word van om “sake soos gewoonlik” te probeer doen, deur byvoorbeeld op akwafoniese en hidrofoniese boerderye te fokus.
Die jeug behoort ook in “slim boerdery” betrek te word, terwyl daar op veilige gebruiksregte van grond en toegang tot grond in dorpsgebiede gefokus moet word, het Tujendapi gesê.
Wat lewendehawe-produksie betref, het konferensiegangers gesê produksie moet verbeter word om landelike ekonomieë te help floreer, terwyl beter doeltreffendheid ’n mikpunt moet wees.
“Die regte persone moet op plase geplaas word – dit raak ook hervestigingskriteria,” is voorgestel.
Oor die skerp vermindering in veeproduksie oor die afgelope jare, stel konferensiegangers voor dat verbossing getakel behoort te word ten einde die drakrag van grond te verbeter. Die kleinveebemarkingskema moet in heroënskou geneem word en jong mense behoort by boerderye ingesluit te word.
Wat die noordelike kommunale gebiede (NCA’s) betref, moet marktoegang en die gehalte van gelewerde produkte verbeter word – gegrond op markvereistes.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie