Konflikleeus vang nóg vee

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Gemoedere loop hoog onder die gemeenskap van die Torra-bewaringsgebied in die Kunenestreek toe dieselfde trop leeus wat verlede week 86 kleinvee en 'n hond afgemaai het, nóg vee Dinsdagnag gevang het.

"Ons is kwaad!" het die voorsitter van die Torra-bewaringsgebied, mnr. Tommy Adams, gister aan Republikein gesê nadat die trop van 10 tot 15 leeus altesaam 145 bokke, 25 skape en vier donkies in 'n kraal by Pitsiespos gevang het. Nóg agt skape word vermis.

Die jongste voorval van mens-leeu-konflik is net suid van Avantepos tussen Grootberg en Melkbosrand waar die vorige voorval verlede week plaasgevind het.

Dít volg terwyl die ministerie van die omgewing en toerisme besig is met reëlings om die trop van 10 tot 15 leeus, vermoedelik van Kliprivier af, te verskuif.

"Waar is die regering se hand? Hulle doen tans net lippediens. Ons pleit dat die leeus met nekbande voorsien word, val jare al op dowe ore," het Adams gesê.

"Ons as gemeenskap in die bewaringsgebied het gesê ons sal saam met die wilde diere leef. Doen asseblief net een keer wat ons van julle vra: Voorsien die leeus van nekbande."

Adams sê voorts die vergoedingsfondse vir veeverliese kom uit die Torra-bewaringsgebied se rekening.

"Ons verdubbel die vergoeding, want dit is maar 'n derde van die markverwante pryse," sê hy.

Volgens die ministerie van die omgewing en toerisme beloop vergoeding tans N$250 per donkie, N$250 per skaap en N$200 per bok, wat baie laer as markverwante pryse is.

MINISTERIE REAGEER

Mnr. Romeo Muyunda, woordvoerder van die ministerie, het gister op die voorval gereageer.

"Ons het inligting oor die jongste voorval ontvang dat meer as 180 vee doodgemaak is. Die ministerie simpatiseer met die boer wat verliese gely het."

Muyunda sê meer amptenare van die ministerie is van verskillende kantore na die gebied ontplooi om die leeus te verjaag.

"Die idee is dat ons die leeus vang en verskuif," het hy gesê.

Gemeenskapslede van Torra is ook ontsteld oor dr. Philip Stander van die Woestynleeu-navorsingsprojek se afwesigheid.

"Hy is nêrens nie. Waar is hy?" word gevra.

Stander is tans in Suid-Afrika.

Muyunda het egter bevestig dié wêreldbekende leeunavorser het nie ’n mandaat om mens-leeu-konflik te hanteer nie.

"Dit is die ministerie van die omgewing en toerisme se mandaat om mens-dier-konflik te hanteer," het hy benadruk.

Intussen het die private leeubewaringsorganisasie Desert Lions Humans Relations Aid (Delhra) ná verlede week se voorval 'n spesiale fonds op die been gebring om die boer wat veeverliese gely het, mnr. Sameul Gawiseb, te vergoed deur sy kudde aan te vul.

"Dié fonds sal ook nou gebruik word om vir die ander boere nuwe vee te koop en die res van die fonds sal aan materiaal vir die voorkoming van mens-leeu-konflik bestee word. Dit is net weer eens 'n bewys dat ons leeuproefkrale werk," het mnr. Izak Smit van Delhra gesê.

Die kraal waarin die kleinvee by Pitsiespos gevang is, is nie roofdierbestand nie, maar bestaan net uit drade en houtsparre.

Delhra het al meer as 70 krale in die Kunenestreek opgerig en opgegradeer. Dit voorsien ook sonkragligte met sirenes en bewegingaktiveringstelsels, klappers en hulp aan die gemeenskappe.

Smit het bevestig Delhra het Dinsdag ook nog 'n vrag skadunet en sonkragligte na die geraakte gebied gestuur, asook 40 spesiale flitse met ligte wat flikker om die leeus af te skrik.

Delhra se vraag bly staan: "Waarom het die ministerie nie op ons en Torra se waarskuwings gereageer die afgelope drie jaar dat hierdie ramp gaan gebeur as die leeus nie van nekbande voorsien word nie?"

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!