Koning Joel ry Dash vir King Price
Koning Joel ry Dash vir King Price

Koning Joel ry Dash vir King Price

Pas ná sy puik verto­ning by laas week se Sani2C-toer is die uitgetrede Wêreldbeker-rugbyheld gereed vir sy debuut in Namibië.
Tielman van Lill
Tielman van Lill



Joel Stransky (53), voormalige Springbok-losskakel, gaan Vrydag die Nedbank Desert Dash namens King Price aanpak.

Stransky was al tevore in Namibië, insluitend in sy rugbydae in die laat 1980's en vroeë 1990's, maar dit sal die eerste keer wees dat hy aan hierdie ikoniese ultramarathon-bergfietsrit deelneem.

“Ek sien uit daarna om meer van Namibië te sien en veral die kus is hoog op my lys!” het hy aan Republikein vertel.

Stransky, wat in 22 toetse vir die Springbokke gespeel het (1993-'96), is 'n gerekende bergfietsjaer en sal Vrydag die Desert Dash se 373 kilometer van Windhoek na Swakopmund as 'n soloryer saam met 186 mans aandurf.

Stransky het sy eerste Cape Epic-toer in 2010 gery. In 2017 se Epic het hy 'n lewensgevaarlike val oorleef, maar in 2018 was hy terug en het saam met Andrew McLean algeheel 61ste uit 678 spanne en derde uit 75 spanne in die grootmeesterklas (50 en ouer) geëindig.

Hy sê hy het nooit daarvan gedroom om eendag op die podium by dié uitdagende toer te staan nie, maar reken sy kompeterende persoonlikheid is die sterkste dryfveer.

Die Bok-legende sê op health24.com: “Dit was 'n ongelooflike gevoel om ná die 2018 Epic op die podium te staan! Nadat ek van my beserings herstel het, het ek nie oor my ongeluk gesit en tob nie, maar my toegespits om vir die volgende Epic voor te berei. Die enigste rede hoekom ek suksesvol was, is omrede ek 100 persent op my doel gefokus was.”

Nadat Stransky 12 jaar gelede uitgedaag is om die Cape Epic vir liefdadigheid te ry, het hy begin bergfiets ry en sal hy volgende jaar vir sy tiende Epic-aanslag aantree.

Die gesoute bergfietsryer sou vanjaar die Namib in 'n tweemanspan tem, maar het besluit om die uitdaging as soloryer aan te pak.

“Ons het gehoor die roete deur die Khomas Hochland se berge en die Namib is ongelooflik mooi, toe het ons besluit om elke meter tot in Swakopmund self te trap!

“Sedert ek met uithou-kompetisies begin het, wou die gogga my nie los nie. Behalwe die nege Epic-toere wat ek sover voltooi het, het ek drie Ysterman-triathlons op my getuigskrif.”

Stransky erken hy is glad nie van plan om die Desert Dash te probeer wen nie.

“Ek het al baie van die moordende Desert Dash en die mooi natuurskoon gehoor. Ek gaan die rit rustig aanpak. Natuurlik gaan dit 'n lang, moeilike en onbekende pad wees, maar ek verstaan om in die nag deur die Namib te ry, is 'n onvergeetlike ervaring. Dit is glo effens onheilspellend, maar mooi.”

Stransky is beslis nie jou sogenaamde gemiddelde drie-keer-per-week fietsryer nie! Net laasweek het hy die ontsagwekkende Sani2C-bergfietstoer in KwaZulu-Natal saam met Mike Hewman in 'n tweemanspan subveterane afgestof.

Stransky en Hewan se algehele tweede plek in dié jaarlikse driedaagse toer oor berge en dale (263 kilometer) vanaf Underberg by die Drakensberge na Scottburg aan die Natalse suidkus, is geensins te versmaai nie.

Die twee het die derde en laaste skof met 'n jaagsessie na die eindstreep ingepalm. Hulle is in 11 ure 59 minute 3 sekondes (totale tyd) oor die wenstreep wat net-net agter die wenners se 11:56:50 is.

“Die Sani2C was 'n fantastiese toer vir my. Dit was nat en modderig, maar dit het ons nie gekeer om steeds hard te ry en die pap dik aan te maak nie.

“Ek het saam met 'n voormalige professionele ryer gery wat steeds ongelooflik in die saal is. Ons het algeheel tweede geëindig en die laaste dag met 'n jaagtog gewen. Dit was regtig epies, maar nou is ek ernstig besig om vir die Nedbank Desert Dash te herstel,” het Stransky met 'n groot glimlag aan Republikein gesê.

Koning Joel ry sy eerste Dash vir King Price, by wie hy al jare 'n kliënt is. Hy sê: “Danksy King Price se koninklike diens en premies wat maandeliks verlaag, is ek 'n baie tevrede kliënt.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!