Konsepmodel vir digbevolkte stadsverkeer

Toyota het ’n gewaagde konsepmodel bekend gestel wat ontwerp is om te wys toekomstige elektries-aangedrewe voertuie kan rygenot bied én omgewingsvriendelik wees.
Gerine Hoff
Die i-TRIL-konsepmodel, wat sy wêreldbuiging by die 2017 Geneefse Motorskou gemaak het, is ’n praktiese alternatief vir stadsmotors, ander elektriese voertuie, openbare vervoer en motorfietse.

Toyota se jongste toekomsvisie is ’n klein, ratse voertuigie vir stedelinge wat baie reis – dikwels in digte verkeer – om inkopies te doen, te gaan uiteet, te kuier en kinders skool toe te vat.

Die kompakte i-TRIL, wat net drie meter lank is en 1 510 mm hoog, bied met ’n spoorwydte van 1 200 mm voor en 600 mm agter ruim sitplek vir drie volwassenes in ’n twee-plus-een-uitleg.

Die voertuig word deur ’n elektriese motor aangedryf en weeg ’n skrale 600 kg (sowat die helfte van ’n gewone motor) en Toyota mik na ’n reikafstand van meer as 200 km voordat die batterye herlaai moet word.

Die i-TRIL kan ook heeltemal outomaties ry, maar is spesifiek ontwerp om soveel rygenot te bied dat eienaars die meeste van die tyd self sal wil bestuur.

Die nuweling, wat al die beste elemente van toekomsvervoer benewens bloot omgewingsvriendelikheid bied, is deur Toyota Motor Europa in samewerking met die maatskappy se ED2-ontwerpateljee in Frankryk ontwikkel. Die i-TRIL is die jongste produk in Toyota se meer as 40 jaar se navorsing en ontwikkeling vir voertuie wat minder energie verbruik, ’n kleiner las op die omgewing plaas en prakties in mense se alledaagse vervoerbehoeftes voorsien.

Die motor pronk met talle vernuwende aspekte van Toyota se navorsing, waaronder "aktiewe leun”-tegnologie wat die voertuigromp en voorwiele in ’n draai laat leun terwyl die aangedrewe wiele te alle tye reghoekig met die pad bly. Vroeër ervaring met hierdie slim tegnologie in voertuie soos die i-ROAD, het Toyota se ingenieurs in staat gestel om te bepaal dat ’n leunhoek van 10 grade perfek is om stabiliteit, klouvermoë en rygenot te kombineer.

Die leunhoek, wat aan die voorwiele se draaihoek van 25 grade gekoppel is, gee die i-TRIL ’n draaisirkel van net vier meter (soortgelyk aan dié van die Toyota iQ), wat dit nie net uiters opwindend maak om teen beskeie snelhede te bestuur nie, maar ook in die digbevolkste stedelike omgewings laat inpas.

Skoenlapper-deure met skarniere aan die skuins windskermpilare sorg vir maklike toegang – selfs vir die agterste passasiers – en verg nie meer plek as gewone deure om oop te maak nie.

Wanneer die kajuitdeure oopgemaak word, skuif ’n deel van die vloer ook weg sodat dit makliker is om met ’n korter tree uit te klim. Die voorsitplekke kan ook met tot 20 grade kantel om makliker in en uit te klim.

Binne verseker ’n ontspanne en agteroor-bestuursposisie – soortgelyk aan dié van ’n renstel – dat die bestuurder op positiewe wyse beheer van die stuurmodule neem. Die stuurwerk, versneller en remme werk met elektroniese verbindings wat soortgelyk is as dié van rekenaarspeletjies. Aangesien die motor nie pedale het nie, kan bestuurders hul bene gemaklik uitstrek en enige soort skoene dra sonder die gevaar om beheer te verloor.

Die motor het geen ander skakelaars of kontroles nie, en ook nie ’n instrumenthuisie nie. ’n Eenvoudige weerkaatsskerm wys al die nodige inligting wanneer die motor met handwerking bestuur word.

Mens en masjien

’n Splinternuwe benadering tot die skakeling tussen mens en masjien fokus op stemwerkingstegnologie – kommunikasie met die voertuig se kunsmatige intelligensie om die multimedia- en vermaakstelsels te beheer.

Wanneer die motor outomaties ry, sak die kontroles heeltemal in die stuurmodule terug wat self ook vorentoe skuif en in die voorpaneel geberg word om die bestuurder meer bewegingsvryheid te gee. Nog ’n kenmerk van die outomatiese rymodus is dat die instrumentepaneel se verste punte aan die linker- of regterkant verlig wanneer die i-TRIL op die punt is om te draai, sodat al die insittendes weet in watter rigting die kajuit gaan kantel.

Die i-TRIL herdefinieer binneruimte met ’n ontwerpbenadering wat die agterste insittendes by die ry-ervaring betrek sonder om die bestuurder se ruimte binne te dring. Trouens, dit bied hulle aansienlik beter sig vorentoe en uitgebreide beenruimte aan weerskante van die bestuurder se sitplek.

Nog ’n nuwigheid is dat die voorste sitplek se kopstut aan die dak van die voertuig vas is en afskuif sodra die i-TRIL aanskakel. Die binneruim is ontwerp om ’n spesifieke motorgevoel te vermy met Alcantara-beslag vir die voorste sitplek, doekstofbekleedsel vir die agtersitplekke en houtafwerking op die vloer – alles van herwinde materiaal gemaak – om ’n gemakliker gevoel te skep.

Die loopvlak van die Goodyear 19”-bande voor en 20”-bande agter is gesny om by die ribvorm van die binneruimbeslag te pas. – Motorpress.co.za

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!