Konstruksie: Is dit eerder die verval-bedryf?
Verslaggewer – Pres. Cyril Ramaphosa se aansporingsplan om met beleggings in infrastruktuur die ekonomie lewe te gee, is straks gedoem nog voordat dit begin het omdat daar eenvoudig nie meer ’n konstruksiebedryf is nie, sê bedryfsrolspelers.
Die rolspelers is ewe skepties oor die indiensnemingsyfers wat verlede week deur Statistieke Suid-Afrika (SSA) gepubliseer is.
Die werkloosheidskoers is nou die hoogste in 15 jaar en die uitgebreide werkloosheidskoers is nou 37,2%.
Luidens SSA se syfers was die konstruksiebedryf een van die min sektore wat 45 000 werksgeleenthede geskep het in die tweede kwartaal, maar kenners sê dit is waarskynlik net die stuiptrekkings van ’n bedryf wat reeds op sy laaste bene is.
Volgens die Suid-Afrikaanse Forum van Siviele Ingenieurskontrakteurs (Safcec) is indiensneming in dié bedryf op ’n laagtepunt. In 2012 het hulle werk verskaf aan gemiddeld 96 500 mense. Dit het gestyg tot meer as 100 000 in 2014, maar sedertdien teruggesak tot sowat 78 000 verlede jaar.
Die bedryfsorganisasie Industry Insight, wat statistieke oor die konstruksiebedryf byhou, sê die toename wat SSA uitwys, is hoofsaaklik mense wat nou vir hulself werk in die konstruksiebedryf.
Sulke mense maak staat op subkontrakteurswerk van groot projekte wat eintlik net deur die konstruksiereuse behartig kan word.
Maar weens die regering se voetslepery met infrastruktuurprojekte gaan selfs die reuse wat ’n paar jaar gelede nog onfeilbaar gelyk het tot niet, sê Industry Insight. En as hulle nie die groot projekte aanpak nie, gaan die kleiner kontrakteurs ook nie meer werk hê nie.
Consulting Engineers South Africa (Cesa) sê dié wat groot kontrakte van die regering kry, word ook nie betaal nie.
Hul data toon dat regeringsinstansies die bedryf teen die einde van verlede jaar R6,6 miljard geskuld het. Dit is betalings wat meer as 90 dae uitstaande was.
Dit is trouens een van die groot redes waarom Liviero, die land se grootste private konstruksiegroep in swart besit, onlangs in sakeredding geplaas is. Liviero het 2 600 werknemers.
Aan die genoteerde kant kry die grotes net so swaar en beleggers betaal die prys.
Die konstruksiebedryf probeer nog herstel van die boetes en reputasieskade weens hul samespanning om infrastruktuur te bou vir die 2010-Wêreldbekersokkertoernooi.
Etlike konstruksiemaatskappye het nou al erken dat hulle drog-tenders ingedien het om mekaar te help omdat daar net ’n handvol groot maatskappye is wat groot projekte soos stadions kan aanpak. Die regering móés kragtens wet verskeie tenders oorweeg en die konstruksiereuse het onder mekaar gekonkel om net enige tenders in te dien dat die proses kon voortgaan.
Benewens die boetes van altesame R1,46 miljard wat die groot konstruksiegroepe hulself in 2013 op die hals gehaal het, het die regering eenvoudig opgehou om werk aan die skuldiges toe te ken.
In ’n poging om die verhouding te herstel, het die bedryf ingestem tot ’n ooreenkoms om transformasie te versnel. Die groot genoteerde groepe het onder meer onderneem om altesame R1,25 miljard oor 12 jaar in ’n fonds in te betaal vir sosio-ekonomiese ontwikkeling.
Hierdie koste maak hulle nou, in ’n omgewing waar werk skaars en die risiko groot is, baie seer en die omvang van regeringskontrakte het nog nooit weer herstel nie.
Van die grootste maatskappye het reeds hul vermoë verloor om groot projekte aan te pak.
· Basil Read se konstruksiebesigheid is tans in sakeredding en die verhandeling van sy aandele op die JSE is opgeskort. Voor die opskorting op 18 Junie het die aandeel teen 4c verhandel. Drie jaar gelede het een aandeel R4,50 gekos en ’n jaar gelede 85c.
· Aveng is tans ook diep in die knyp en die nuus vandeesweek dat sy eertydse mededinger Murray & Roberts nie meer met ’n samesmelting tot sy redding gaan kom nie, het die sukkelende aandeelprys op ’n skamele 8c gehou. Drie jaar gelede was dit R6,23 en ’n jaar gelede R4,05.
· Group Five het sy vingers verbrand met ’n kragprojek in Ghana en moes onlangs ’n skuldeiser-stilstand met sy finansiers beding. Sy aandeelprys staan tans op 81c, teenoor R22,00 drie jaar gelede en R16,20 ’n jaar gelede.
Al drie hierdie groepe probeer hul bes om weg te kom uit die plaaslike konstruksiebedryf, soos wat Murray & Roberts reeds in 2016 gedoen het.
Stefanutti Stocks het in die jaar tot einde Februarie ’n verlies van meer as R500 miljoen gerapporteer, maar sy aandeelprys is darem nog op R2,65. Drie jaar gelede was dit R4,55 en ’n jaar gelede R3,30.
Die padbouspesialis Raubex se aandeelprys is R20,93 ondanks ’n skerp afname in werk van Sanral. Drie jaar gelede was dit R18,30 en ’n jaar gelede R22,40.
Die markgunsteling Wilson Baily Holmes-Ovcon (WBHO) se aandeelprys is steeds ’n stewige R152,00, wat groei toon teenoor drie jaar gelede se R93,18 en ’n jaar gelede se R137,55. WBHO skryf sy sukses toe aan gevestigde verhoudings met kliënte waar hy nie tenders hoef in te dien vir werk nie. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie