Kopbeserings lei tot verbrande meisie se dood
Kopbeserings lei tot verbrande meisie se dood

Kopbeserings lei tot verbrande meisie se dood

Die pa van ’n negejarige, wat onlangs wreed in Windhoek vermoor is, het haar lyk geïdentifiseer.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die Zimbabwiese meisie (9), wie se grudood Namibiërs drie weke gelede geruk het, is weens veelvoudige hoofbeserings dood.

So het adj.komm. Kauna Shikwambi, die nasionale polisiewoordvoerder, Vrydag by navraag bevestig.

Volgens Shikwambi is dít deur die nadoodse ondersoek onthul.

Die woordvoerder het voorts gesê die meisie se pa het haar beslissend as Akundaishe Natalie Chipomho uitgeken.

Kort nadat haar verbrande lykie deur ’n afgetrede oudonderwyser in ’n munisipale drom ontdek is, het die polisie gevrees duur DNS-ontleding sou waarskynlik nodig wees om haar uit te ken.

Shikwambi het ook die afgelope Vrydag aan Republikein gesê Akundaishe se pa het verlede week haar oorskot teruggeneem Zimbabwe toe.

Die meisie is sowat drie weke gelede tuis vermoedelik dood geslaan waarná haar oorskot in ’n munisipale drom gegooi en aan die brand gesteek is.

Haar ma, me. Rachel Kureva, en ’n volwasse huismaat, me. Caroline Nkata, het onlangs in die Windhoek-landdroshof op aanklag van moord, dwarsboming van die gereg en lykskending verskyn.

Nkata se man, mnr. Edward Nkata, het verlede week in sy afwesigheid op dieselfde klagte in die hof verskyn.

Die drietal maak na verwagting hul eerste gesamentlike verskyning op 17 April vanjaar.

Tot dan bly die vroue in aanhouding, terwyl Edward Nkata onder polisiebewaking in die Katutura-staatshospitaal aansterk.

Hy is kort ná sy inhegtenisneming ernstig in ’n motorongeluk beseer toe die vangwa waarin hy saam met twee polisielede op reis was, die pad verlaat en omgeslaan het.

Shikwambi het Vrydag gesê sy toestand het steeds nie gestabiliseer nie.

Republikein het vroeër verneem hy het glo rugbeserings opgedoen, wat sy vermoë om te loop en te staan, belemmer.

Sy vrou het tydens haar en die meisie se ma se hofverskyning gebieg sy was teenwoordig toe hy glo die kind doodgeslaan het.

Volgens haar moes sy hom daarná onder dwang vergesel om die lyk te gaan weggooi en toe brandstof te gaan koop waarmee die lyk aan die brand gesteek is.

Die betrokkenheid van die kind se ma, ’n verpleegster, is nog in duisternis gehul.

Vroeër is berig die kind is oor ’n lang tydperk aan geweld onderwerp – sodanig dat bure in ’n stadium maatskaplike werkers ontbied het.

In Januarie vanjaar het die beweerde aanrandings glo toegeneem, het bure aan die polisie vertel.

Die ma van die kind is die oggend ná haar lyk ontdek is in die hoofstad in hegtenis geneem, terwyl die egpaar later daardie dag in die Otjozondjupastreek by ’n polisiepadblokkade aangekeer is.

Hulle het vermoedelik met hul babadogtertjie en twee jong seuns op die vlug probeer slaan nadat hulle uitgevind het die polisie was op hul spoor.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer