Koppe uit die sand!
Koppe uit die sand!

Koppe uit die sand!

Dani Booysen
Een van die bloedigste naweke op Namibiese paaie in mensegeheuenis verdien net een reaksie: Tot hier toe en nie ‘n aks verder nie.

Minstens 23 mense het Vrydag en Saterdag die lewe gelaat. Vanjaar se Augustus en September is besig om in een van die allerverskriklikste slagtings ooit te ontaard.

In gister se beriggewing het ‘n belanghebber kommer oor byvoorbeeld politici en kerke se stilte oor die krisis uitgespreek. Namibiërs wonder ook of kerke genoeg teen ander vorme van geweld en misdaad preek, byvoorbeeld wandade teen vroue en kinders.

Buite Kalkfeld was juis ‘n kerk betrokke in ‘n tragedie waarin 14 mense omgekom het. Die bussie het byna drie keer meer passasiers as die voorskrif vervoer.

Beter beheer oor, en selfs strenger regulasies is beslis vir openbare vervoer nodig.

Hoewel dit, soos die polisiehoof sê, waar is dat wetbewakers nie oral kan wees nie en mense verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid moet aanvaar, kweek die afwesigheid van sigbare polisiëring wetteloosheid. Die patrollering van ons paaie moet ‘n prioriteit wees – waarvoor genoegsame bronne toegewys word.

Dat die gevaarlik vinnige volstruis sy kop in die sand steek om weg te kruip, is ‘n bewese mite. Die uitdrukking is nietemin tekenend van baie se gedrag op ons paaie.

Ons kan nie maar net aanhou om dié bloedige gruis en glassplinters te sluk en hoop ons spysverbetering gaan regkom nie.

Ruk die koppe uit die sand. En stuit die slagting.

So sê ander

16 September 2019

Beeld, Die Burger en Volksblad sê

16 September 2019 00:00

Wat tans in die Britse politiek gebeur, is ’n fassinerende oefening in die werking van die demokrasie, een wat Suid-Afrikaners met vrug kan dophou.

Die magstryd tussen die parlement en die premier sal sonder twyfel in die toekoms deur historici as ’n belangrike hoofstuk in die ontwikkeling van die Britse demokrasie beskou word. Dit is minstens ewe belangrik as die magstryd van die 17de eeu tussen die koning en die parlement.

Die laaste tyd het Boris Johnson, die premier, gedreig om ’n wet wat behoorlik deur die parlement aanvaar is, te negeer. Hy sal liewer “dood in ’n sloot” lê as om dié opdrag uit te voer, het ’n veglustige Johnson verklaar.

In antwoord het die speaker, John Bercow, nou in ’n toespraak gesê dít sal Johnson in dieselfde kategorie as ’n “bankrower” plaas. Hy het onderneem om Johnson te stuit, en terselfdertyd gepleit dat Brittanje eindelik ’n geskrewe grondwet moet kry.

As Johnson bly vasskop, meen staatsregkenners, kan hy aangekla word van minagting van die parlement en selfs in ’n tronksel toegesluit word.

Deur die jare het die parlement in die praktyk talle aspekte van sy soewereiniteit aan die uitvoerende mag oorgedra. Dit wil lyk of die parlementslede nou halt wil roep en herbevestig dat die parlement soewerein is.

Dis ’n waterskeiding.

• NETWERK24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer