Kora-hofsaak se einde in sig
Kora-hofsaak se einde in sig

Kora-hofsaak se einde in sig

Die Namibiese Toerismeraad het Mundial Telecom Sarl, mnre. Ernest Adjovi en Tonata Shiimi reeds in September 2016 gedagvaar.
Ellanie Smit
Ellanie Smit – Die hofsaak aangaande die Kora Afrika-musiektoekennings handel oor een van die mees verreikende misbruike van 'n ­Namibiese openbare entiteit deur 'n buitelandse maatskappy in sy strewe om – ten koste van die klaer – toegang tot openbare fondse te verkry.

Dit is volgens die Namibiese Toerismeraad (NTB) se vertoog wat die afgelope week by die hoërhof in Windhoek ingedien is nadat die saak in April voor die hof gebring is.

Die NTB het in September 2016 Mundial Telecom Sarl, die stigter van Kora, mnr. Ernest Adjovi en die plaaslike organiseerder, mnr. Tonata Shiimi, vir N$23,5 miljoen plus 20% rente gedagvaar vir 'n ­promosiepakket wat nooit uitgesaai is nie.

Mundial besit die regte om die Kora-musiektoekennings aan te bied, terwyl Adjovi die president van die maatskappy was en Shiimi die ­nasionale direkteur van die geleentheid.

NTB voer aan Mundial het geen wettige basis om die N$23,5 miljoen te hou wat NTB betaal het nie.

“Mundial het geen konkrete bewyse gelewer om die fondse se hou wat die NTB betaal het nie en ons voer aan daar is geen nie,” lui die hofdokumente.

Die dokumente sê ook Mundial het – op eie risiko – verkies om nie individue met eerstehandse kennis van die ooreenkoms en die uitvoering daarvan, as getuies voor die hof te roep om NTB se weergawe te betwis nie.

NTB se uitvoerende hoof, mnr. Digu //Naobeb, is die enigste getuie wat tot dusver in die saak getuig het.

Die hof het Adjovi se aansoek om via Zoom-videokonferensie te getuig van die hand gewys.



REGERING SE BETROKKENHEID

Dit het tydens die verhoor aan die lig gekom die Namibiese regering het, deur middel van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, 'n ooreenkoms van US$6 miljoen met Mundial aangegaan om die toekenningsgeleentheid in Namibië aan te bied.

Die geleentheid sou op 20 Maart 2016 plaasvind.

Volgens Mundial se ooreenkoms met die regering moes US$2 miljoen teen 11 Desember 2015 aan die maat­skappy betaal word.

Ingevolge die ooreenkoms, as die regering versuim om die US$2 miljoen teen dié datum te betaal, sou die geleentheid nie meer plaasvind nie en sou die partye geen verdere verpligtinge teenoor mekaar hê nie.

Hierdie ooreenkoms is op 8 November 2015 onderteken, slegs 'n week voordat 'n aanbod aan die NTB gemaak is om 'n promosiepakket van sowat US$2 miljoen by Mundial te koop as deel van die toekenningsgeleentheid.

NTB het die bedrag tot by US$1,5 miljoen onderhandel. //Naobeb het aangevoer daar was geen verband tussen die twee ooreenkomste nie.

Die promosie-ooreenkoms tussen NTB en Mundial, wat op 4 Desember 2015 onderteken is, bepaal die betaling van US$1,5 miljoen moes teen 10 Desember 2015 geskied.

Die eerste bedrag van N$5 miljoen is op 22 Desember oorbetaal en die laaste betaling van N$8,5 miljoen op 17 Februarie.

“Ons kan nie die feit oorbeklemtoon nie dat die kontrak bewysbaar en onweerlegbaar nie ondergeskik was aan die beweerde 'nasionale' ooreenkoms tussen die verweerder en die regering nie.

“Nodeloos om daarop te wys albei stipuleer dit is die enigste memorandum tussen die betrokke partye,” het NTB aangevoer.

NTB sê hul saak en getuienis kan as onbetwis beskou word aangesien geen getuies geroep is nie en die hof NTB se eis van N$23,5 miljoen moet ondersteun.

Slotvertoë sal op 31 Augustus voor regter Herman Oosthuizen aangehoor word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!