Kordate Duster kry ’n selfskakel-kas

Marnus Hattingh - Toe Renault sy klein Duster in 2013 na die mark gebring het, was daar menige wat sy koddige lyf een kyk gegee en gedink het nee wat, nóg ’n poging wat gaan misluk.

Vier jaar later en die Duster is van die gewildste klein sportnutse op ons paaie. Wat nog interessanter is, is dat 63% van alle Dusters dieselvariante is.

Wêreldwyd kon Renault al 2 miljoen Dusters van die hand sit, wat heel gaaf vir sy sakemodel is. ’n Kombinasie van ’n baie billike prys, eenvoudige afwerking binne en ’n robuuste lyf (’n kort eersterat sodat jy in moeilike situasies steeds maklik kan klouter, en ’n 21 cm-grondvryhoogte) beteken jy kry beslis waarde vir jou geld.

In Suid-Afrika is daar boaan die portefeulje ’n 4x4-model, maar laer af kry jy slegs voorwielaandrywing, en ’n keuse van ’n 1.6 l-petrol- of ’n 1.5 l-turbodieselenjin.

Gegewe die mark wat die Duster in die oog het – meesal Derdewêreldstreke – maak sy eenvoudige meganika sin. Dit was dan veral die kombinasie van ’n handratkas vir al die modelle, ’n goeie grondvryhoogte, ’n ruim binneruim en sy eerlike afwerking wat hom so ’n gedugte mededinger op die markplein gemaak het.

Nou het Renault ’n nuwe gaping gesien: Om ’n outomatiese weergawe te bied, maar nie as ’n topmodel nie.

Die topmodel bly steeds toegerus met 4x4-vastrap. Net onder hom sal jy egter nou ’n outomatiese weergawe kry, in 4x2-aandrywing en gekombineer met die 1.5 l-turbodiesel, om ’n heel bestuurbare klein sportnuts-alternatief te skep.

Die enjin is onveranderd. Jy kry 80 kW en 240 Nm wringkrag, maar gekoppel aan die enjin is die Renault-groep se sesgang- outomatiese ratkas, toegerus met twee koppelaars.

Renault se bemarkers noem die model die EDC, vir Efficient Dual Clutch, en suinig is hy wel. Waar die handratmodel ’n verbruiksyfer van 4,7 liter bied, is die outomatiese model slegs marginaal swaarder (4,8 liter).

Die koms van die EDC-model het Renault sommer ook die geleentheid gebied om die hele Duster-reeks te vernuwe. In die binneruim is die instrumentpaneel nou met ’n groot raakskerm toegerus wat jou nutsfunksies huisves. Dit behels onder meer ’n satnav-stelsel, spoedbeheer, ’n trukamera en gonsers agter.

Op die pad is die klein Duster heel gaaf om te bestuur. Jy sit hoog agter die stuur en sig reg rondom is goed. Parkeerwerk in smal ruimtes is maklik danksy die trukamera, en in dorpsverkeer is dit net ’n ligte druk met die regtervoet om hom van verkeerslig na spoedwal te reguleer. Ratskakeling in die proses is ook seepglad en skaars voelbaar. En omdat dit ’n dubbelkoppelaarratkas is, is daar geen van die gewone, irriterende glip te bespeur as jy versnel soos wat jy by ’n tradisionele wringkragomsetter sal vind nie.

Waarvan ek die meeste gehou het, is dat die klankdemping binne die kajuit werklik goed is. Daar is geen dieselgekletter hoorbaar met aanskakel of luier nie. Gee jy vet, gee die enjin ’n sagte knor. Buite die voertuig hoor jy wel duidelik die dieselenjin.

Regstreekse mededingers in dié segment is maar yl gesaai, slegs die Hyundai Creta bied ’n diesel-en-outomaties-kombinasie. Wat enjinkrag betref, is die Creta frisser, maar die Fransman wen gemaklik as dit by verbruik en binneruimte kom.

Met sy dieselenjin en outomatiese ratkas raak die opgeknapte Duster ’n heel gemaklike wegbreekvoertuig vir die naweekkryger. Nie te duur nie, lekker ruim en met die gemaklike rit in die dorp wat jy verlang as die verkeer druk raak. Plus daardie lae verbruik vir ’n 700 km-reikafstand op een tenk brandstof.

Voorkoms ten spyt, het die Duster ons skeptisisme skoon uitgestof. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer