Korrupsiewip van 'halwe' wetgewing
Korrupsiewip van 'halwe' wetgewing

Korrupsiewip van 'halwe' wetgewing

Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt
As joernalis het ek myself al in 'n paar eienaardige situasies bevind. 'n Meer vreedsame voorbeeld hiervan en een wat my twee keer laat dink het oor waarheen my lewe op pad is, was toe ek onlangs met 'n groep musikante in 'n opname-ateljee oor politiek begin gesels het.

Oom Hage was egter nie die middelpunt van hierdie gesprek nie, maar liewer Nascam (die Namibiese Vereniging vir Komponiste en Outeurs van musiek) wat onder meer verantwoordelik is vir die beskerming van musikanteregte, asook die regulering en betaling van fooie aan musikante.

“Nascam is in 'n gemors. Jy kry minder daaruit as wat jy per jaar betaal,” sê 'n musikant wat anoniem wil bly.

Geen musikant sal dit egter waag om Nascam se gebakte pere in die openbaar te ontbloot nie, want daar is, volgens die spreker, van plaaslike musikant Shishani 'n voorbeeld gemaak toe sy juis dít probeer doen het.

“Die probleem is dat ons geen gronde het nie. Ons Grondwet maak nie voorsiening vir musiek of die kunste nie. As ek as musikant iemand sou dagvaar vir kopiereg van 'n liedjie, sou ek dit heel waarskynlik onder patentreg moet doen en dit maak nie sin nie,” sê 'n ander.

Dit het my laat terugdink aan my dae as mediastudent toe toegang tot inligting die hoofgesprek was.

“Die probleem met Namibië is dat ons Grondwet juis voorsiening maak vir toegang tot inligting, maar dat dié toegang vir joernaliste min beteken,” het 'n dosent in 'n gesprek ná klas aan my en 'n klein groepie medestudente gesê.

“Om dinge soos korrupsie te kan ontbloot, moet ons die regering se inkomste teenoor hul uitgawes kan vergelyk. Ons het nodig om hul finansiële state te sien om te kan verstaan waar geld wegraak. Ons reg tot inligting as joernaliste beteken slegs dat ons nie leed aangedoen mag word as ons op 'n publieke platform sou vrae vra nie.”

Joernaliste word gereeld oor hul werk bevraagteken en hoekom ons nog nie die korrupsie in ons land ontbloot het nie. Ons weet dit is ons werk en ons wil dit baie graag doen.

Die media is veronderstel om die regering verantwoordelik vir hul dade te hou, maar so lank as wat daar agter toe deure transaksies plaasvind, is ons hande afgekap.

Die dag toe Al Jazeera oudminister Bernhard Esau en sy trawante ontbloot het vir hul vermeende korrupsie, was 'n hartseer dag vir my as joernalis. Dit moes ons gewees het. Ons eie Namibiese joernaliste moes die spul ontmasker het, maar ons eie mense moes weer terugstaan vir die buitelandse redders om in te gryp.

Dit sou baie eenvoudig gewees het as enige joernalis 'n mediakaart kon kry en aandring om te weet wat in die staatskoffers aangaan, maar dit hoef nie so te wees nie. Die regering se pogings om korrupsie toe te smeer, beteken ondersoekende joernaliste moet aangestel word en in 'n land waar werkloosheid 'n reusekopseer is, is 'n nuwe werkie altyd welkom.

Die probleem kom in wanneer jy die ekonomie van 'n korrupte land in oënskou neem en besef meeste mediahuise probeer kostes sny weens die moeilike ekonomiese klimaat. As dit nie geld inbring nie, moet dit waai.

“Die probleem met ondersoekende joernalisme is dat dit geld kos. As 'n ondersoekende joernalis 'n storie elke ses maande lewer, is dit baie goed. Ongelukkig lewe ons in 'n era van inhoud.

“Die alledaagse joernalis moet nou meer as ooit inhoud produseer. Om net elke ses maande iets by te dra, is nie goed genoeg nie,” het ek en 'n vertroude mentor onlangs oor 'n porsie Fork 'n Nice calamari en tjips gesels.

Sien jy hoe vang korrupsie ons in 'n wip? Ek is lief vir hierdie land en ek weet jy is ook. Ons almal wil sien dat die land vooruitgaan, maar totdat ons leiers 'n stelsel geïmplementeer het wat hulle verantwoordelik vir hul dade hou, sal liefde maar genoeg moet wees om ons hier te hou.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!