Kort Nuus – Internasionaal

Engeland

Onbekende stof lei tot ‘ernstige voorval’ in Engeland

Twee mense van Amesbury, naby Salisbury in die suide van Engeland, is in ’n kritieke toestand in die hospitaal nadat hulle moontlik blootgestel is aan ’n onbekende stof.

Reuters berig die polisie het dit Dinsdag as ’n ernstige voorval verklaar.

Dit is onbekend aan wat presies die man en vrou (albei in hul 40’s) blootgestel is, berig CNN.

Reuters berig Amesbury is slegs 11 km van Salisbury waar Sergei Skripal, die voormalige Russiese spioen, en sy dogter, Joelia, in Maart vanjaar met senugas vergiftig is.

CNN berig is daar eers vermoed die twee mense het siek geword nadat hulle heroïen of crack cocaine gebruik het, maar hulle “kry nou behandeling vir moontlike blootstelling aan ’n onbekende stof.”

Volgens CNN is Skripal en sy dogter intussen uit die hospitaal ontslaan. – Netwerk24

Amerika

92-jarige skiet seun dood oor sorgsentrum

“Hy wou my lewe neem, so ek neem syne,” het ’n 92-jarige vrou van Arizona in die VSA gesê, terwyl die polisie haar by haar seun (72) se woonstel uit begelei het nadat sy hom doodgeskiet het.

Anna Mae Blessing het in ’n rolstoel gesit tydens haar eerste hofverskyning op aanklag van moord en aanranding met ’n dodelike wapen, berig die New York Post.

Luidens hofdokumente het Blessing vir dae reeds getob oor haar seun se plan om haar in ’n sorgsentrum te laat opneem voordat sy hom Maandagoggend (plaaslike tyd) doodgeskiet het.

Sy het glo twee pistole in haar kamerjas weggesteek en hom verskeie kere geskiet waar hy gelê en slaap het. Sy is op borgtog van ’n halfmiljoen dollar vrygelaat. – Netwerk24

Frankryk

Bendelid ontsnap met helikopter uit Franse tronk

’n Grootskaalse soektog is in Frankryk aan die gang nadat ’n berugte bendelid helder oordag met ’n gekaapte helikopter weggevlieg het in ’n gewaagde ontsnapping by ’n gevangenis.

Volgens Al Jazeera is dit Rédoine Faïd se tweede ontsnapping in vyf jaar.

Faïd is Sondag in die gevangenis se besoekerskamer gegryp nadat sy medepligtiges die helikopter in die tronk se binnehof geland en kraggereedskap gebruik het om deur veiligheidshekke te sny.

Volgens die BBC is die vlieënier ’n vlieginstrukteur wat deur die mans gyselaar gehou is.

Die helikopter het ná die ontsnapping na die nabye Gonesse-gebied gevlieg waar dit later deur die polisie gevind is.

Die 46-jarige Faïd dien tans ’n vonnis van 25 jaar uit vir ’n mislukte rooftog waarin ’n polisieman dood is. – Netwerk24

Japan

‘Heldersiende’ seekat nou ’n sappige happie

Rabio, die seekat wat al Japan se Wêreldbeker-sokkeruitslae korrek voorspel het, is doodgemaak en het in sasjimi verander.

Hierdie weekdier is ná ’n eksperiment in ’n vlak swembad as heldersiende beskou, maar Kimio Abe, die visserman wat Rabio gevang het, het gevoel hy sal meer geld uit hom maak vir kos as vir sy heldersiendheid, berig die BBC.

Dié visserman, wat vir Rabio op 19 Junie gevang het, het hom in ’n plastiekswembad gesit wat drie bokse bevat het. Die bokse het Japan, sy teenstander en ’n gelykop-telling verteenwoordig.

Die seekat het sy voorspelling gemaak deur na een van die bokse te beweeg.

Volgens Rabio se voorspelling sou Japan wen teen Colombië, gelykop eindig met Senegal en verloor teen Pole. Hierdie voorspellings was korrek. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!