Kort Nuus – Internasionaal

Israel

Swanger vrou, kind sterf in lugaanvalle in Gasa

Drie mense is dood in ’n reeks lugaanvalle deur Israel in die Gasa-strook nadat militante verskeie vuurpyle op die suide van Israel afgevuur het.

’n Swanger vrou en haar eenjarige dogter is in die Jafarawi-omgewing dood en ’n Hamas-militant is in die noorde dood.

Die media in Israel berig talle burgers is in Sderot en omliggende dorpe naby die Gasa-grens beseer.

Die Verenigde Nasies en Egipte probeer as tussenganger om ’n skietstiltand op lang termyn te bewerkstellig tussen Israel en Hamas, die militante Islamitiese groep wat in beheer is in Gasa.

CNN berig dat die weermag in Israel minstens 100 vuurpyle afgevuur het.

The Times of Israel berig dat Israel vroeër paaie moes sluit weens kommer oor weerwraak. – Netwerk24

Indonesië

Sjamaan hou vrou glo 15 jaar gevange

’n Indonesiese vrou wat 15 jaar lank in ’n grot gevange gehou is deur ’n plaaslike sjamaan wat haar glo gereeld verkrag het, is Sondag gered.

CNN berig die polisie het in ’n verklaring gesê die 28-jarige vrou, bekend as “H”, is naby die dorpie Bajugan in ’n skeur agter groot rotse gevind.

Die polisie het ’n wenk gekry dat H glo aangehou word deur ’n 83-jarige sjamaan genaamd Jago, berig The Jakarta Post.

Volgens die polisie het H se ouers haar in 2003 vir behandeling na Jago geneem. Sy was toe 13 jaar oud.

Kort daarna het Jago aan haar ouers gesê dat sy iewers ver weggegaan het, berig CNN. Sy is as vermis aangemeld toe haar ouers haar nie kon opspoor nie.

Jago het H gebreinspoel om te glo ’n seun genaamd Amrin se gees is in sy liggaam, berig The Guardian.

Hy het haar as jong meisie seksueel misbruik en haar glo ’n foto gewys van Amrin, wat sy gedink het is haar kêrel.

Jago is aangekla van misdrywe onder die kinderbeskermingswette. Hy kan tot maksimum 15 jaar tronkstraf gevonnis word. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer