Kort nuus – Internasionaal

Peru

Een sterf in kragtige aardbewing

’n Kragtige aardbewing van 8.0 is Sondagoggend in die noorde van Peru gemeet. CNN berig dat een persoon dood is en ten minste 11 mense beseer is.

Volgens Bloomberg was die aardbewing Sondag om 02:41 (09:41 Suid-Afrikaanse tyd) sowat 75 km suidoos van die dorpie Lagunas.

Die skudding kon tot so ver as Lima, die hoofstad van Peru, gevoel word. Lima is meer as 800 km van Lagunas.

Die trillings van die aardbewing, met sy episentrum sowat 110 km ondergronds, is ver gevoel.

Pres. Martín Vizcarra van Peru het in ’n twiet gesê die owerhede evalueer die gebiede wat deur die aardbewing geraak is. Hy het ook mense aangemoedig om kalm te bly.

Aardbewings is nie ’n vreemde verskynsel nie in dié gebied wat in die Stille Oseaan se sogenaamde Ring van Vuur geleë is.

Reuters berig daar was kragonderbrekings in Iquitos, die hawestad aan die Amasone-reënwoud, en Tarapoto.

Foto’s en video’s wat aanlyn die ronde doen, toon gekraakte en beskadigde mure. – Netwerk24/Bloomberg/Reuters

Nepal

Everest: Brit dalk dood weens hoogtesiekte

’n Brit wat die jongste slagoffer van berg Everest geword het, het sy tyd en roete mooi beplan om nie in die massaverkeer op die berg vasgevang te word nie.

Robin Fisher is op 25 Mei op 8 600 m vermoedelik dood aan hoogtesiekte terwyl hy op pad terug was, berig CNN.

Hy het op 13 Mei op Instagram geskryf: “Ek hoop om die verkeer te vermy op die dag wanneer ek die piek bereik. Dit lyk of ’n hele paar spanne die piek op die 21ste wil bereik.

“Met net ’n enkele roete na die piek kan oponthoude weens die verkeer doodsake beteken. So ek hoop my besluit om op die 25ste te gaan sal minder mense beteken. Behalwe natuurlik as al die ander spanne dieselfde gaan doen.”

Die meeste mense kan sonder ekstra suurstofvoorraad net enkele minute op die piek vertoef.

Die gebied waar die klimmers in toue moet wag, word die “doodsone” genoem. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!