Kort Nuus – Internasionaal

Australië

Aartsbiskop in Australië gevonnis

Die Rooms-Katolieke aartsbiskop in Australië wat daaraan skuldig bevind is dat hy die seksuele molestering van kinders probeer toesmeer het, is tot 12 maande in aanhouding gevonnis.

Philip Wilson, aartsbiskop van Adelaide, was in die 1970’s bewus daarvan dat priester James Fletcher seuns gemolesteer het, maar het versuim om die misdade by die polisie aan te meld.

Hy is verlede maand skuldig bevind en is die mees senior lid van die Katolieke Kerk wêreldwyd wat aan die misdaad skuldig bevind is.

Die hof het bevind die seuns het Wilson van die molestering vertel, maar hy het hul klagtes verwerp omdat hy die kerk se reputasie wou beskerm. In een geval het ’n 11-jarige seun vir Wilson in die bieghokkie van die molestering vertel. Wilson het gesê hy jok en moet tien keer die Heilige Maria-gebed opsê.

Fletcher is in 2006 in die tronk dood, ’n jaar nadat hy skuldig bevind is op agt aanklagte van kindermishandeling en tien jaar tronk toe gestuur is. – Netwerk24

Bahamas

Toeris sterf toe boot se enjin ontplof

’n Amerikaanse toeris is dood en nege ander mense is beseer in ’n ontploffing wat ’n boot in die Bahamas verswelg het, berig CNN. Die Amerikaanse kuswag sê vier Amerikaanse toeriste is na ’n hospitaal in Florida geneem.

Stefanie Schaffer, ’n Amerikaner, het lewensgevaarlike beserings opgedoen en is in ’n kritieke toestand ná ’n dubbele amputasie, het haar familie volgens die New York Post gesê. Haar suster Brooke se bene is gebreek en sy het inwendige beserings opgedoen. Stacey en Paul Bender, hul ma en stiefpa, het kneusplekke opgedoen.

“Op Saterdag 30 Junie was die familie op ’n besigtigingsvaart om die besienswaardighede van Exuma-eiland, net meer as 200 km suid van Nassau (hoofstad van die Bahamas) te sien,” lui ’n pleidooi op ’n Go Fund Me-blad wat begin is om die gesin te help. – Netwerk24

Japan

Japanse keiser het serebrale anemie

Keiser Akihito (84) van Japan het al sy openbare verpligtinge gekanselleer nadat hy duiseligheid en naarheid ervaar het en ’n suurstoftekort in sy brein gediagnoseer is, het ’n woordvoerder van sy paleis Maandag aan Reuters gesê.

Akihito, wat byna drie dekades gelede reeds die troon bestyg het, het onderneem om volgende jaar April uit te tree. Dit sal die eerste abdikasie deur ’n Japanse keiser in byna twee eeue wees.

Volgens die paleis is die toestand serebrale anemie by die keiser gediagnoseer nadat hy oor duiseligheid en naarheid gekla het.

Hy sterk tans by die paleis aan.

Akihito en sy vrou, keiserin Michiko, wat gewild is onder Japannese burgers, het baie tyd en aandag daaraan bestee om die wonde van die Tweede Wêreldoorlog, wat in die naam van sy pa, Hirohito, beveg is, te heel. – Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!