Kort Nuus - Internasionaal

FILLIPYNE

Skerpskutter skiet burgemeester dood

CNN berig Antonio Halili, omstrede burgemeester van die Filippynse stad Tanauan, is deur ’n skerpskutter by ’n vlaghysingseremonie by die stadsaal kort na 08:00 gister plaaslike tyd doodgeskiet. Halili was berug daarvoor dat hy mense wat vir dwelmoortredings aangekeer is, deur die strate geparadeer het.

Luidens die plaaslike polisie het ’n koeël hom in die bors getref en is hy ’n uur later by die Reyes Memorial-hospitaal dood verklaar.

Volgens die plaaslike nuuskanaal, ABS CBN, meen die polisie die verdagte het die skoot uit bosse sowat 150 meter weg afgevuur.

Die Tanauan-inligtingskantoor het ’n video van die voorval aan die webtuiste verskaf. – Netwerk24

AMERIKA

Trump steek hand uit na nuwe leier van Mexiko

Pres. Donald Trump van Amerika het Adrés Manuel López Obrador, wat die presidentsverkiesing in Mexiko gewen het, geluk gewens.

Obrador is ’n voormalige burgemeester van Mexiko-stad.

Daar is vroeër berig dat daar altesame 133 politici, meestal op plaaslike vlak, in die aanloop tot Sondag se verkiesing vermoor is.

Die moorde is tussen September, toe die registrasieproses vir kandidate geopen het, en die Woensdag voor die verkiesing gepleeg.

Obrador het onderneem om sy man teen Trump te staan, wat ’n muur tussen die twee lande wil bou. Obrador wil ’n einde bring aan die wydverspreide geweld in die land, wat deur magtige dwelmkartelle geteister word. Meer as 200 000 mense is sedert 2006 in Mexiko vermoor. – Netwerk24/Reuters

BRITTANJE

Meisie sterf ná springkasteel ontplof

’n Jong meisie is oorlede toe ’n springkasteel weens hoë temperature van tot 21°C in Norfolk in Engeland ontplof en haar sowat 20 voet (ongeveer 6 m) in die lug gegooi het. Volgens SkyNews het die fratsvoorval Sondag by Gorleston-strand plaasgevind. Die meisie is na die nabygeleë James Page-hospitaal geneem, waar sy aan haar beserings beswyk het. Haar naasbestaandes is van haar dood in kennis gestel en word deur die plaaslike polisie bygestaan. Sondag se voorval kom twee jaar ná die sewejarige Summer Grant oorlede is toe die springkasteel waarop sy gespeel het in Harlow in Essex deur die wind van die grond af gevee is. – Netwerk24

JAPAN

Japanse keiser het serebrale anemie

Keiser Akihito (84) van Japan het al sy openbare verpligtinge gekanselleer nadat hy duiseligheid en naarheid ervaar het en ’n suurstoftekort in sy brein gediagnoseer is, het ’n woordvoerder van sy paleis Maandag aan Reuters gesê.

Akihito, wat byna drie dekades gelede reeds die troon bestyg het, het onderneem om volgende jaar April uit te tree. Dit sal die eerste abdikasie deur ’n Japanse keiser in byna twee eeue wees.

Volgens die paleis is die toestand serebrale anemie by die keiser gediagnoseer nadat hy oor duiseligheid en naarheid gekla het.

Hy sterk tans by die paleis aan.

Akihito en sy vrou, keiserin Michiko, wat gewild is onder Japannese burgers, het baie tyd en aandag daaraan bestee om die wonde van die Tweede Wêreldoorlog, wat in die naam van sy pa, Hirohito, beveg is, te heel. – Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!