Kortnuus
Kortnuus

Kortnuus

Jo-Mare Duddy Booysen
Nairobi

Keniaanse boerdery vereer

EuroFresh Exotics, 'n Keniaanse landbou-onderneming wat vars groente en vrugte uitvoer, is benoem om saam met vyf ander Afrika-gebaseerde projekte deel te neem aan die Afrika Finansies en Beleggingsforum se Entrepreneurskapstoekenning van 2017. Die forum word van 13 tot 16 Februarie in Nairobi gehou. EurFresh Exotics is gekies vir hul innoverende boerderymetodes om onder meer ertjies, boontjies, grenadellas en avokadopere te kweek.

Die onderneming is in 2012 deur Lydia Wambui begin. – Netwerk24

Kigali

Rwandese lugdiens bied kaartbetalings

Die Rwandese lugdiens RwandAir het 'n vennootskap met die internasionale tegnologiegroep Wirecard AG gesluit om aanlynkaartbetalingsdienste te kry. Wirecard is een van die voorste spesialiste in betalingsverwerkings. Wirecard sal kliënte van RwandAir in staat stel om hul vlugte aanlyn by www.rwandair.com te bespreek en met hul Visa-, MasterCard, Diners-, JCB-, China UnionPay- of Maestro-kaarte te betaal.

Eckart Reiche, hoof van lugdiensverkope by Wirecard, sê Rwand­Air is 'n innoverende vennoot wat topklastegnologie en -dienste gebruik om sy prosesse en wins te optimaliseer. RwandAir is in Kigali gebaseer en het 'n vloot van 11 vliegtuie en vlieg na 19 stede in Wes-, Oos-, Suider-Afrika asook die Midde-Ooste. – Netwerk24

Rabat

Marokko wil sy landbou-uitvoer opstoot

Marokko wil 'n handelsplatform in die Ivoorkus skep wat op landbou-uitvoer toegespits is.

Die mikpunt is om die handel in landbouprodukte tussen die twee lande aan te moedig, en veral om Marokko te help om sy landbou-uitvoer na die Ivoorkus en omliggende lande in Wes-Afrika uit te brei.

Marokko is 'n groot sitrusprodusent en mik om teen 2020 'n miljoen ton sitrusvrugte uit te voer vergeleke met die 530 000 ton in 2016. Abdellah Janati, besturende direkteur van Marokko se uitvoerbeheerliggaam, sê hul nuwe teikenmarkte is die res van Afrika, state in die Midde-Oosterse Golf, Asië en Oos-Europa. – Netwerk24



Kampala

Total brei uit in Uganda

Die Franse oliereus Total het sy belang in 'n Ugandese olieprojek vergroot. Total het 'n transaksie van US$900 miljoen met die Ierse onafhanklike olie-eksplorasiegroep Tullow Oil beklink om twee derdes van Tullow se belang in die Albertmeerprojek in Uganda te koop. Total besit nou 54,9% van die projek.

Tullow besit nou net 11,76% en dit sal tot 10% daal wanneer die Ugandese regering sy regte op die projek uitoefen. – Netwerk24

Nairobi

Kenia koop wapens van Amerika

Die Amerikaanse departement van buitelandse sake het 'n kontrak van US$418 miljoen goedgekeur om militêre vliegtuie en wapens aan Kenia te lewer vir sy stryd teen die terreurgroep Al Sjabaab.

Dit sluit 12 Air Tractor AT-802L-vliegtuie in. Dit is oesbespuitingsvliegtuie wat omskep is in ligte aanvalsvliegtuie vir Afrika-toestande. Daar is ook twee AT-504 opleidingsvliegtuie en wapens, het 'n Amerikaanse verdedigingsagentskap gesê. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer