Koës-inwoners moedeloos oor wanbestuur

Klagtes oor dorpsraad op skrif gestel.
Augetto Graig
Augetto Graig - Koës-inwoners sit hande in die hare oor hul dorpsraad.

Volgens hulle word dié dorp wanbestuur.

'n Verslag met klagtes is aan Republikein gestuur.

Inwoners wil dit as grondslag vir 'n petisie teen die dorpsraad gebruik.

Van die klagtes sluit in die misbruik van geld, die toekenning van tenders, watervoorsiening, vullis- en rioolverwydering en die dorpsraad se ondeursigtigheid.

Volgens 'n inwoner was die afsny van Koës se krag op 8 Februarie maar een van baie probleme.

Die verslag noem ook dat geld aan die dorpsraad toegeken is vir ver­skeie projekte wat nooit voltooi is nie.

Dié projekte sluit in die bou van 'n sentrum vir kleinsakeondernemings, die Build Together-projek en die gemeenskapstuinprojek waarvoor N$300 000 bewillig is. Die dringendste kwessie is die dorp se elektrisiteitskuld.

Nog 'n beswaarde inwoner sê die kleinsakeprojek is veronderstel om klein winkeltjies te huisves, maar “dit is verander in 'n gedrog en 'n baken van mislukking”.

Koës se dorpsraad sê die besware het geen meriete nie.

Volgens mnr. Johannes Cupido, raadsvoorsitter, is dit jammer dat inwoners nie hul name by besware gevoeg het nie en dat hulle nie self die raad genader het nie.



Cupido ontwyk vrae

Volgens Cupido is die kleinsake­projek 'n inisiatief van die kantoor van die president wat deur 'n ooreenkoms tussen Namibië en Duitsland ondersteun word.

Dié projek word deur 'n nieregeringsorganisasie, R.I.S.E.-Namibië, aangepak en die dorpsraad sal net die eindresultaat erf as dit klaar is, sê hy.

Hy moedig belanghebbendes aan om die Nasionale Beplanningskommissie te nader vir meer inligting.

Die Build Together-projek op die dorp vorder goed, sê hy, en 'n spesi­fieke huis waaroor gekla is, is deur sterk winde beskadig.

Die eienaar en die dorpsraad moet die skade herstel, en daar is 'n komitee wat genader kan word met enige ander klagtes, sê Cupido.

Hy het nie op inwoners se ander vrae gereageer of terugvoering gegee oor die aansluiting van krag na huise wat byna vier jaar al leeg staan nie.

Hy sê die gemeenskapstuinprojek is die //Kharasstreeksraad se verantwoordelikheid.

Cupido stel voor inwoners moet óf die waarnemende hoof- streeksbeampte, óf die Keetmanshoop landelike kiesafdelingskantoor daaroor nader.

Hy het ook geen antwoord verskaf oor die gruiswerke-aanleg op die dorp nie.

Oor kragverskaffing sê Cupido die raad het NamPower betaal en reëlings getref om te verseker dat elektrisiteit op die dorp beskikbaar sal bly.

“Die skuld is veroorsaak deur onwettige elektrisiteitsaansluitings en die plaaslike tariewe wat baie laag is in vergelyking met NamPower se tariewe,” sê hy.

Cupido het bevestig dat die dorp sy eie water voorsien deur die gebruik van boorgate.

“Daar is ook mense wat hul eie water uit 24 onwettige boorgate pomp. Dis 'n groot kopseer vir die raad,” sê hy.



Riolering

Koës het 'n oksidasiedam vir die behandeling van riool, sê Cupido, hoewel sekere dele van die dorp nog septiese tenks gebruik.

Volgens Cupido het die raad, met die steun van die beplanningskommissie, voorsiening gemaak vir die bou van 'n volledige rioolstelsel.

Weens die tekort aan staatsgeld is dié projek vir eers gestop, sê hy.

Intussen beweer inwoners dat riool in die dorp se waterbron gestort word. Cupido het nie hierop gereageer nie.

Oor padinstandhouding het Cupido gesê padboutenders is toegeken en “al die nodige prosedures is gevolg”.

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!