Koës: Onmin onder bestuur pootjie dienslewering

Regering
Andrew Poolman
Monique Adams – Die Koës-gemeenskap is raadop oor ’n gebrek aan dienslewering en water, asook verstopte rioolstelsels, ’n stortingsterrein wat nie skoongemaak word nie en kragtoever wat nog herstel moet word.
NamWater verskaf nie meer water aan die klein dorpie nie, omdat die dorpsraad ’n bedrag van N$800 000 aan die waterverskaffer skuld.
Veitjie Hanse (50), wat in Koës se informele buurt Soek en Kry woon, sê die rede hoekom hulle NamWater soveel geld skuld, is omdat hulle hul waterrekeninge betaal het en toe die geld weggeraak het, het niemand antwoorde gehad nie.
Dít, het Hanse gesê, is hoekom hulle weier om hul waterrekeninge te betaal, en nou kan diegene wat uitstaande waterrekeninge het nie krag koop nie.
Koës is nou al vyf maande lank sonder water en sakeondernemings soos The Coffee Shop word hierdeur geraak.
Toeriste stop by die koffiewinkel, maar dit raak vir die eienaar, Giep Barnard, ’n verleentheid om die gaste te verwelkom as daar nooit water is nie.
TWEE HOOFDE
Die dorpsraad het tans twee uitvoerende hoofde, Willy Humphries en Johannes Toivo. Laasgenoemde was die waarnemende uitvoerende hoof tydens Humphries se afwesigheid sonder vooraf kennis.
“Vir die twee weke in my kantoor was daar geen kommunikasie nie en ek word duidelik uitgesluit in besluitneming. Tans kommunikeer hulle net alle sake met die waarnemende uitvoerende hoof,” het Humphries gesê.
GEEN KOMMUNIKASIE
Die nuwe raadslede Anne-Marie Jacobs (31) en Ettiene Kooper (38) sê daar is ’n persoonlike vendetta tussen die voorsitter [Johannes Janser] en die uitvoerende hoof.
“Die grootste probleem is dat daar geen kommunikasie tussen die voorsitter en uitvoerende hoof is nie, asook geen kommunikasie tussen al vyf raadslede nie. Ons kan nie almal om een tafel sit nie, want om aan verskillende politieke partye verbonde te wees, speel ’n groot rol.
“Vandat ek nou al 11 maande ’n raadslid is, baklei ons oor die Humphries-storie en takel ons nie die ander probleme wat Koës het nie,” het Jacobs gesê.
Gerrit Witbooi, die streekraadslid vir die Keetmanshoop-kiesafdeling, het die lede van die dorpsraad versoek om hul huis in orde te kry.
“Dis ’n nuwe jaar; ek sien nie die behoefte vir mense om mekaar te haat nie. Betoon respek en liefde. Janser en Humphries moet bymekaar kom en hul persoonlike probleme opklaar, want hierdie gedrag bring onopgeloste kwessies na die gemeenskap van Koës,” het hy gesê.
Janser wou nie kommentaar lewer nie.
[email protected]

FOTO’s verskaf
Kinders speel in dié vuil water agter hul huise, wat onveilig en ’n gesondheidsrisiko is.
Koës-inwoners sukkel dikwels met verstopte rioolstelsels.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!