Kosbare Kersherinneringe

Bekendes onthou hul mooiste feestyd saam met geliefdes.
Francoise Steynberg
Redaksie - Bekende Namibiërs deel hul mooiste Kersherinneringe uit hul kindertyd.

Akteur Armas Shivute
My beste Kersfeesherinnering kom uit my kinderjare. Deesdae is Kersfees nie meer wat dit was nie.

Ek het in die Noorde grootgeword en Kersfees was vir ons dié geleentheid waarna ons uitgesien het. Al die beste goed het Kersfeestyd gebeur. Dit was sowat 1984 of 1985.

Ek is gebore in Windhoek maar is op die ouderdom van 2 of 3 deur my pa geneem om in die Noorde by my ouma te gaan bly. Ons sou al op 24 Desember die huis begin opknap met takke van die mopaniewurmbome, veral gerangskik om die voordeur.

Die vroue het tradisionele bier bekend as Omalovu begin brou en die bokke is geslag. Dit het gewemel van voorbereidings vir die groot dag. My pa het met sy pragtige groot nuwe bakkie gekom. Hy het my laat roep en gesê ek moet na hom toe kom as ons werk klaar is, hy het vir my ’n verrassing. Ek was so nuuskierig oor die verrassing.

Toe ek klaar is, het ek by hom in die Olupale gaan sit en hom vertel van alles by die huis, die toestand van die diere en wat gebeur het terwyl hy weg was.

“Ek sien jy raak nou groot. My verrassing aan jou is vir Kersfees. Kom môreoggend na my kamer, na jy wakkergeword en gebad het,” het pa my gesê.

Ek was daai volgende oggend eerste wakker en gebad. Toe ek hom gaan sien, sê hy, “okay, gee my daai sak aan.”

Die sak was swaar en ek het dit nader getrek. Ek was seker 10 of 11 jaar oud. Toe haal hy ’n deftige swart pak met ’n wit hemp uit. Dit was my heel eerste pak ooit.

Ek was so opgewonde om dit vir my ouma te gaan wys. My pa het my gesê die pak is my present en dat sy nuwe bakkie aan ons behoort en dat ek dit eendag sal ry. Ek die pak by my ouma gelos en vir ten minste 20 minute om die bakkie gehardloop,

Ons het destyds so ’n bakkie Ofoota yelambo genoem. Daai belofte van my pa het hy nagekom en daai bakkie was die eerste voertuig wat ek ooit bestuur het.

Hy het my jare later met daai motor leer bestuur.

Vandag is Kersfees te veel oor materialistiese dinge, liewer as om met familie te wees. Ek verkies nog tot vandag om Kersfees met my familie deur te bring.

Sanger Daniella Deysel
Van my vroegste herinneringe aan Kersfees was op vierjarige ouderdom op Okahandja toe op ou Kersaand die deurklokkie skielik lui, en my ma sê vir ons ons moet gaan kyk wie dit is.

Toe ons die deur oopmaak, is daar geskenke op die deurmatjie neergesit. Toegedraai in pragtige rooi Kerspapier met goue linte wat die mooiste krulle gemaak het. Die soort krulle waarin klein gretige handjies altyd vassit soos hulle dit probeer losmaak sonder om skade aan te rig sodat dit gehou kan word as Kersvader-aandenking, want hy en sy elwe het dit mos self toegedraai en mens kan by die skool gaan spog met die linte omdat Kersvader self daaraan gevat het.

Toe ek opkyk na die straat wat voor ons huis verbyloop, sien ek hoe Kersvader met sy slee oor die telefoonpale vlieg. Die prentjie van Kersvader is so duidelik afgeëts in my geheue. Ek het jare daarna, nadat my ouer suster verklap het dat Kersvader eintlik my pa en ma is, probeer sin maak van die onmoontlike, duidelike prentjie wat ek gesien het. Maar toe later tot die gevolgtrekking gekom dat my verbeelding seker maar net baie sterk was.

Sedertien het ek van ander mense gehoor wat as kinders dieselfde fenomeen ervaar het, dat hul regtig-egtig vir Kersvader sien vlieg het met sy slee, so duidelik soos daglig. My man, Chris Chameleon, ook. Hy het ook ‘n storie waar hy duidelik vir Kersvader sien vlieg het daar in Gordonsbaai nadat hy die geskenke afgelewer het.

Maar dit is saam met my man wat ek die beste Kersfees-herinneringe dra. Ons het een Kersfees by ons strandpondokkie in die Oos-Kaap afsonderlik van mekaar besluit om vir mekaar poetse te bak op Kersdag. Die Kersoggend het doodnormaal begin. Ons het die oggend kaalvoet na die Kersdiens naby die strand gestap en soos elke ander jaar geluister na die dominee se grappie oor die Blou Bulle voordat ons “Hark the Herold Angels sing” sing.

Toe ons terug by die strandhuisie kom, het ons besluit om al die kosse saam voor te berei. Wat ‘n totale uitsondering is, siende dat my man weier om ‘n voet in die kombuis te sit. Blyk toe dat ons ‘n gedugte kookspan maak. Alles was voortreflik, tot die trifle het met sy vyfster- Michelinstatus gespog.

Kom geskenktyd. Dit is nooit net die twee van ons met Kerstyd nie, ons maak altyd seker dat ons die eregas ook daar het, naamlik ‘n bottel Franse sjampanje. Met die oopmaak van die eerste geskenk besef ons beide dat ons dieselfde plannetjies met mekaar gehad het. Van geskenke wat by dose uitspring, tot ‘n get-out-of-jail-free-kaart - vir wanneer my man dit gaan nodig kry by die huis.

Ons het so gelag dat ons later op die grond gelê het en nie kon opstaan nie. Met skemer het ons op die strand gaan stap en in die warm Indiese Oseaan gaan swem. Met sonsondergang het ons besef dat elke tree op die strand terug na die huisie sterretjies om ons voete verskiet, die golwe het gebreek in die mooiste groen en blou ontploffings. Fosfor in die water het die aand vir ons mooi kom afrond.

Skrywer Zirk van den Berg
Toe ek nog 'n voorskoolse tjokkertjie was het ons Kersfees meestal op Hentiesbaai gaan kamp – pa, ma en kinders, ooms en tannies, neefs en niggies.

Die kinders het van vroeg tot laat rondgehol, en partykeer die ouers ook, want speel is nie net vir die kleintjies nie. Hulle het vis gevang en krewe uitgehaal en kos gemaak. Op Kersfees kom die hele spul bymekaar en ryg die opslaantafels in ‘n ry en laai hulle vol kos.

Almal sit op strandstoele met hulle voete in die sand. Dan word daar lékker gekuier.

Een jaar het ek en my nefie albei sulke kruiwaens van plastiek gekry en het dit ons werk gemaak om Henties se sand van plek tot plek te vervoer, heen en weer en kruis en dwars. Daai sandkorrels was later skoon deurmekaar.

Sanger Riaan Smit
My beste Kersherinneringe was op Langstrand met familie waartydens ons ons dae verwyl het om op die strand rondom die vuur kitaar te speel.

Elke jaar sou my gesin enigeen en almal nooi om by ons vir Kersmiddagete aan te sluit. Ons tafel was nooit groot genoeg nie, maar ons sou die muur van ons stoep vul met mense.

Ons het liedjies gesing tot die aand.

Ons het wakker geword met die kole wat nog smeul in die vuur met koffie en beskuit.

Ons sou dan Swakopmund toe gaan, video’s huur by V’s Videowinkel en die dag deurbring deur met ons Kersgeskenke te speel en flieks te kyk.

My pa sou vir almal braai, terwyl my ma vir almal wat by ons aandoen die beste kos voorberei het met ’n warm, oop hart.

Sanger Lize Elhers
My gunsteling-Kersherinnering is van musiek op die grasperk by my ouerhuis op Mariental te maak.

My pa het onder die groot rubberboom gesit, my ma het op die buitebed gelê en ons musiek geniet terwyl ons “Suikerbossie”, “Stille Nag” en nog vele ander liedjies voor kerk, 'n heerlike ete en baie gelag, gespeel het.

Geskenke was klein, maar die gesinsgees was ongelooflik.

TV-aanbieder Nina Katangana
My ouers het dit destyds dit ’n tradisie gemaak om jaarliks na ’n klein dorpie, Steynsberg, in die Oos-Kaap te reis. Dit is my ma se tuisdorp.

Kersfees is daar effens anders gevier. Op Kersoggend trek die kinders ná ontbyt hul nuwe Kersklere aan.

Dan sou ons in klein groepies van huis tot huis in die nedersetting loop en Happy happy! in ruil vir Kerslekkers skree. Hoe mooier jou Kersuitrusting, hoe meer lekkers het jy gekry. Jy kan teen middagete weer by die huis aankom met genoeg lekkers vir dae.

Goeie tye.

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

#N/A #REF! #N/A