Kossmann-moordenaar skuldig
Kossmann-moordenaar skuldig

Kossmann-moordenaar skuldig

Katanga moet vir moord en roof met verswarende omstandighede pa staan.
Augetto Graig
Augetto Graig



Hoërhofregter Orben Sibeya het Johannes Katanga verlede Donderdag aan die grumoord op mnr. Karl-Heinz Kossmann (71) in 2017 skuldig bevind.

Kossmann het op 25 September 2017 weens ernstige kop- en borswonde en 'n skietwond gesterf.

Katanga is aan moord en roof met verswarende omstandighede skuldig bevind, maar is vrygespreek op die klag van poging tot roof met ­verswarende omstandighede.

Kossmann het op die plaas Aas­voëlkrans in die Outjo-distrik geboer en Katanga het vir 'n kort tydperk by hom gewerk.

Bewyse voor die hof toon Kossmann is tydens die voorval vasgebind, aangerand, geskiet en van N$1 737, R95, 'n selfoon, 'n rewolwer en 'n pistool beroof.

Hy het later in die hospitaal aan sy wonde beswyk.

Die staatsaanklaer, mnr. Tangeni Iitula, het getuies geroep en bewyse verskaf dat 'n buurvrou Kossmann ná 13:00 die betrokke middag in sy kombuis gevind het met sy hande agter sy rug vasgebind.

Me. Irene Otto het vertel sy het bloed- sleepmerke gesien van buite die huis af tot by die beseerde Kossmann, asook klippe, stukkende stokke en leë patrone in die huis.

Kossmann het aan haar gesê hy is van agter af oorval, het sy getuig.

Sy het glo ook 'n bakkie met 'n matras agterin gesien.

Later is ontdek die bakkie was vol goedere gelaai, maar het die perseel nooit verlaat nie.

Otto se plaaswerkers, mnre. Shinime Ananias en Tuhafeni Pohamba, wat Otto vergesel het toe sy op die nuus van 'n skietery gereageer het en ­ondersoek gaan instel het, het dié getuienis bevestig.

Polisiebeamptes het getuig Katanga is met die twee handwapens betrap toe hulle hom later die dag by 'n padblokkade in hegtenis geneem het.

Katanga was toe in besit van N$1 713, R95 en die betrokke selfoon.

Hy het 'n saamrygeleentheid by mnr. Simon Awene van Khorixas na Outjo gekry.

Awene het ook vir die staat getuig.

Die staat het ook bewys Kossmann se beenwond is deur 'n koeël van die betrokke rewolwer veroorsaak, sy dood is deur dié wond en ander slaanwonde teen die kop en bors veroorsaak, en Katanga het ná die voorval probeer weghardloop.

Katanga het getuig hy het met ­Kossmann gestoei en 'n skoot het afgegaan, maar hy het nie geweet of die plaasboer getref is nie.

Hy het ook getuig hy was op pad Outjo toe om die geskil by die ­arbeidsministerie aan te meld.

Volgens hom het hy die wapens uit vrees geneem en is nie bewus daarvan dat Kossmann voor sy dood ­gemartel is nie.

Katanga het ook gesê hy is nie bewus van die bakkie of die inhoud daarvan nie. Sibeya was nie van sy getuienis oortuig nie. Die voorvonnisverhoor sal op 13 Februarie voortgaan.

 – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!