Koue, ryp en dan reën

Beide Enso-toestande en die Indiese Oseaan is blyk gunstig te wees vir somerreën.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

Terwyl klimaatsratte oënskynlik positief vir Namibië se komende reënseisoen draai, waarsku weerkenners dat meer koue eers op pad is en ryp nog oor groot dele van die land tot middel-Augustus kan voorkom.

Mnr. Johan van den Berg, 'n landbouweerkundige-konsultant sê egter dit blyk ons is nou by die winter se omdraaipunt.

“Tog word redelike koue toestande nog verwag. Boonop word winterreën in Augustus en selfs tot in September voorspel. Dit beteken frontale stelsels sal tot dan nog oor Suider-Afrika inbeweeg en koue bring.

ONGEWOON

Van den Berg sê Junie was ongewoon in die sin dat dagtemperature laer as normaal was, terwyl nagtemperature meer gemiddeld was.

“Dit is normaal dat Junie en Julie ons koudste maande is. Die huidige winter het egter nie baie koud begin nie en Junie was ook nie te koud nie,” het hy gesê en bygevoeg dit het die afgelope weke egter erg koud geraak, met koue weer wat vanaf die suidweste inbeweeg het en ook Namibië beïnvloed het.

“Redelike koue winters word dikwels geassosieer met goeie somers in terme van reën. Dit bewys die stelsels wat die reën bring is gekoppel aan ons temperature.”

Van den Berg sê wat Namibië se klimaat vanjaar kan beïnvloed, is die feit dat die water in die Atlantiese Oseaan aan Suider-Afrika se weskus tussen een en vier grade warmer as normaal is.

“Dit is nog nie heeltemal ‘n Benguela Niño nie, maar dit kan ook ‘n invloed hê, wat moeilik is om te kwantifiseer,” het hy verduidelik.

REËNVOORUITSIGTE

“Wat die reënseisoen betref – daar is twee faktore wat dit grootliks beïnvloed. Die een is Enso-toestande, wat die komponente El Niño en La Niña het.

“Tans is Enso-toestande in ‘n neutrale fase, maar die kans bestaan dat dit teen September of Oktober swak tot matige La Niña-toestande kan handhaaf, wat goed is vir somerreën in Suider-Afrika.

“Die tweede faktor is wat in die Indiese Oseaan gebeur. Toestande hier is tans baie gunstig, met koeler water wat teen die hele ooskus van Afrika - vanaf die horing by Somalië tot verby Kaapstad lê.

“Die poel van koue water strek ooswaarts en raak warmer teenaan Australië. Tans is dit warmer as gewoonlik – iets wat vir die volgende paar maande behoort te heers en ook baie positief vir ons reën is.

Van den Berg sê tans is weerstoestande in die noordoostelike dele van Afrika, soos Somalië en Tanzanië, droër as normaalweg, wat ook ‘n positiewe teken vir Suider-Afrika is.

Hy sê die vooruitsig is oor die algemeen positief, maar die reënseisoen sal dalk nie vroeg kom nie. “Darem ook nie so laat soos verlede jaar nie, dalk kan ons vanaf November ons eerste reën ontvang.”

“Dit is raadsaam om goed te beplan. Die kanse is goed dat ons vanaf 2022–’23 weer droogtetoestande kan ervaar. Beskou hierdie dus as ‘n bonus – as dit realiseer – en nie die nuwe normaal nie. Beplan reg,” sê Van den Berg.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer