KPS sien uit na ’n besige jaar

Helene Bam
- Mandie Adriaanse, Graad 12, Keetmanshoop Privaatskool

Keetmanshoop Privaatskool (KPS) is ’n klein skooltjie, of eerder ’n groot familie, in die hartjie van die Suide.

Die sêding “klein botteltjies, groot gif” is beslis hier van toepassing.

By KPS oefen ons hard, leer ons hard en kuier ons lekker.

Boonop is ons skool ook aktief by die gemeenskap betrokke.

Ons het die jaar afgeskop met KPS se tradisionele “Afskop” – ‘n potjiekoskompetisie met heerlike musiek, smullekker kos en hope pret.

Ons atlete het die afgelope naweke uitstekend gevaar by ons huisbyeenkoms - Privaatskool Elnatan se Santam Prestige-byeenkoms.

Ons strepieshemde was alomteenwoordig.

Meneer en Mejuffrou KPS, Retief Blaau en Mandie Adriaanse, beoog om binne die volgende paar weke die munisipaliteit by te staan met ’n skoonmaakprojek.

Die twee trotse verteenwoordigers van die skool het reeds sokkies vir bejaardes laat brei, kersfeeskoekies uitgedeel en ’n tee vir bejaardes help aanbied.

As verdedigende kampioene van die C-ligabeker, is ons eerste rugbyspan reeds hard aan die oefen, maar die rugbyoefening meng nie in met die seuns se konsertoefening nie.

Shrek the Musical word een van die dae deur ons eie Shrek en Fiona opgevoer.

Alle leerlinge van graad 1 tot graad 12 is ewe opgewonde oor hierdie produksie.

Ons jaarbeplanner is stampvol lekker aktiwiteite, van ’n mini-skou tot ’n heerlike termynbreek, maar niks meng met ons akademie in nie.

Ons akademie is ’n prioriteit en ons matriekgroep beoog om groot dinge teen die einde van die jaar te bereik.

Ons hoërskoolleerlingraad se fokus is op dissipline en respek, en ons onderwysers staan bankvas agter hulle.

Die laerskoolleerlingraad was onlangs op ’n leierskapkamp, en hulle laat nie gras onder hul voete groei nie.

Hulle het ’n splinternuwe bord in ons skoolsaal laat opsit wat hulle missie, visie en doelwitte duidelik uiteensit.

Almal by KPS is daartoe verbind om 2017 ’n wonderlike jaar te maak, en met krag van Bo is alles moontlik.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer