Krag byna 3% op
NamPower het vir ’n 5,8%-verhoging gevra, maar die elektrisiteitsbeheerraad het ’n verhoging van 2,92% vir grootmaat-kragverskaffing goedgekeur.
Augetto Graig – Die Elektrisiteitsbeheerraad (ECB) het gister ’n verhoging vir grootmaat-kragverskaffingstariewe aangekondig.
Die ECB se uitvoerende hoof, me. Foibe Namene, het aangekondig die nasionale kragverskaffer, NamPower, mag hul grootmaat-tarief met 2,92% verhoog tot N$1,6982 per kilowatt-uur vanaf N$1,65 per kilowatt-uur. NamPower het ’n verhoging van 5,8% gevra wat gelykstaande is aan N$1,7673 per kilowatt-uur, sê sy.
Die nuwe tarief tree op 1 Julie in werking.
“Die goedgekeurde tariefverhoging volg op ’n twee jaar periode waarin die tarief vir grootmaat-kragverskaffing nie verhoog is nie,” het Namene gesê.
Grootmaat-verskaffers wat krag by NamPower koop, insluitend plaaslike owerhede, streekkragverspreiders, streekrade en myne sal vir hul eie verhogings moet aansoek doen en dit moet ook deur die ECB goedgekeur word.
“Die ECB besef die ekonomie gaan gebuk onder moeilike omstandighede en het nog nie herstel nie. Om die impak van die tariefverhoging op verbruikers en die ekonomie te versag, het ons vir die periode 2021-’22 ’n bedrag van N$35 miljoen beskikbaar gestel vanaf die lang termyn marginale kostefonds, om wisselende operasionale koste vir NamPower se termiese kragaanlegte te dek,” sê sy.
ECB se bestuurder van ekonomiese regulasies, mnr. Pinehas Mutota, het uitgebrei dat dit na die Van Eck- en Anixas-kragstasies verwys.
Verder sê Namene nog N$500 miljoen van dié fonds sal aan NamPower beskikbaar gestel word om hernubare kragstasies te bou.
Altesaam N$342 miljoen is vir die 20MW-sonkragaanleg onder konstruksie op Omburu naby Khorixas geoormerk.
Die oorblywende N$158 miljoen sal gedeeltelik ’n nuwe NamPower-windkragaanleg befonds, sê sy.
“NamPower sal nie toegelaat word om hul opbrengste of waardevermindering op hierdie bates, geskep deur die gebruik van die N$500 miljoen, aan te teken nie. Dit sal ’n besparing vir verbruikers van omtrent N$1 miljard oor 30 jaar beteken, en elektrisiteit vir verbruikers meer bekostigbaar maak,” sê sy.
“Die ECB besef Covid-19 het die ekonomie beïnvloed, maar die ekonomie is net so afhanklik van betroubare en bekostigbare kragtoevoer. Dit is daarom die verantwoordelikheid van die reguleerder om ’n volhoubare elektrisiteitsbedryf te verseker teen bekostigbare tariewe,” sê sy.
Namene sê die ECB verwag toekomstige tariefaanpassings om in lyn met die inflasiekoers te bly.
Volgens Mutota is Namibië se maksimum kragaanvraag sowat 610MW en daarvan wek NamPower saam met onafhanklike kragvoorsieningsvennote sowat 45% plaaslik op. Die ander 55% word vanaf die SADC-streek en die buiteland ingevoer. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie