Kraginvoere hemelhoog

Die nasionale kragverskaffer dring daarop aan dat net 65% van die land se krag ingevoer word.
Augetto Graig
Augetto Graig



Vrae hang oor kraginvoere nadat 'n onafhanklike analise van die nasionale kragverskaffer, NamPower, se aanlyn moniteringstelsel (Scada) aangedui het daar word tans swaar geleun op buitelandse verskaffers om die ligte aan te

hou.

Een ontleder verwys na data oor September vanjaar op die webtuiste http://www.nampower.com.na/Scada.aspx wat aandui sowat 97% van die land se uurlikse kragverbruik was in dié maand van die buiteland afkomstig.

Maar NamPower hou voet by stuk dat slegs 65% van die land se kragtoevoer van buurlande in suidelike Afrika af ingevoer word.

“NamPower het 'n nuwe vyfjaar- kragvoorsieningsooreenkoms met Eskom onderteken vir die vaste toevoer van 200 MW en bykomende nie-vaste toevoer wat afhanklik is van vanjaar se oordragvermoë,” het NamPower aan Republikein gesê.

Hulle het glo ook ooreenkomste vir onderskeidelik 80 MW en 50 MW met die Zimbabwe Power Corporation (ZPC) en Zambia Electricity Supply Corporation (Zesco) aangegaan.

“Voorts is NamPower as aktiewe lid van die Suider-Afrika-kraggroep (SAPP) verbind tot Suid-Afrika en Zambië met die doel om die handel in energie in die streek te fasiliteer,” het NamPower gesê.

Van die invoere is 64% van Eskom afkomstig, 15% van Zesco, 15% van ZPC en 6% van ander aankope, hoewel NamPower daarop aandring dat invoere altesaam net 65% van totale gebruik behels.

NamPower se Scada-stelsel het egter Maandag aangedui dat Eskom 384,18 MW van Maandag se totale verbruik van 517,38 MW verskaf het, terwyl Zesco 120,03 MW voorsien het.

Vir dié dag het sonkragopwekking in die land maar 13,95 MW voorsien, terwyl windkrag 1,17 MW verskaf

het.

Die Ruacana-, Van Eck-, Paratus- en Anixas-kragstasie het volgens die Scada-stelsel op dié dag niks bygedra nie.

NamPower se inligting wat hiermee strook, is dat die 347 MW wat Ruacana kan verskaf, afhanklik is van die vloei van water in die rivier.

Volgens NamPower se kragaankope-afdeling was Ruacana se kragverskaffing vanjaar merkwaardig minder as tevore, omdat minder reën tot dusver tot die rivier se vloei bydra.

Die nasionale kragverskaffer sê verder Van Eck, wat 120 MW kan verskaf, word tans opgeknap, met Paratus (24 MW) wat tans buite werking gestel is, en Anixas (22,4 MW) wat net in noodgevalle aangeskakel word.



AMPTELIKE STANDPUNT

NamPower hou steeds by sy amptelike standpunt.

“NamPower voer nie 95% in nie, maar gemiddeld net 65%. Dié invoer word bepaal deur die beskikbaarheid van krag by Ruacana. Wat die afhanklikheid van invoere betref, bly Namibië 'n netto-invoerder totdat 'n basisladingstasie (base load station) gebou is, wat 24 uur per dag bekostigbaar kan werk en die vermoë het om in die energiebehoeftes van die land te voorsien,” aldus die nasionale kragverskaffer.



KOSTE VAN KRAGINVOERE

Die koste van kraginvoere word ook bevraagteken, met aanduidinge dat dit die land jaarliks N$2,6 miljard kos. Hoewel amptelike syfers vir 2016 nog nie be­skikbaar is nie, het die adjunkminister van myne en energie, me. Kornelia Shilunga, verlede week in die parlement bevestig daar is in 2015 reeds N$3,059 miljard aan kraginvoere bestee.

Van N$1,075 miljard in 2012, N$1,412 miljard in 2013 tot N$1,953 miljard in 2014 was die tendens dat die koste elke jaar vermeerder het.

Nogtans het Shilunga gesê na verwagting sou 2016 se invoere net N$1,51 miljard kos.

In terme van binnelandse kragver­skaffing het NamPower kragaankope-ooreenkomste gesluit met 14 plaaslike onafhanklike hernubare energieprodusente, wat elk 5 MW genereer.

Sewe van die 14 is reeds in werking.

Die oorblywende sewe sal na verwagting teen die middel van 2018 in werking wees.

Volgens NamPower sal hul eie Renewable Energy Feed-in Tariff-program (REFIT) tot 70 MW hernubare energie tot die netwerk bydra en daarbenewens het NamPower ook 'n ooreenkoms met Greenam Energy gesluit om 20 MW sonkrag te genereer.

Dit sal na verwagting teen die middel van volgende jaar op die been wees.

Konstruksie het aan die begin van 2017 begin.

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!