Kragsituasie op Kombat in u2019n groot penarie
Kragsituasie op Kombat in u2019n groot penarie

Kragsituasie op Kombat in ’n groot penarie

’n Hofbeslissing mag dalk vandeesweek ’n oplossing vir ’n dorp in die Noorde se elektrisiteitsprobleme bied.
Augetto Graig
Augetto Graig

Inwoners van Kombat is in die middel van ’n hofgeding gewikkel weens ’n bedrag van bykans N$11,5 miljoen wat aan NamPower verskuldig is vir die voorsiening van elektrisiteit tussen Januarie 2017 en Junie 2019.

Volgens hofdokumente het mnr. Andre Neethling, in sy hoedanigheid as direkteur van Congo Namibia Trading, en mnr. Paulinus Shilimba, die destydse besturende direkteur van NamPower, op 1 Mei 2013 ’n ooreenkoms vir die voorsiening van elektrisiteit onderteken.

Congo Namibia Trading sê Neethling was nie gemagtig om dié ooreenkoms te onderteken nie.

NamPower se huidige besturende direkteur, mnr. Kahenge Haulofu, het die situasie só uiteengesit.

“In ooreenstemming met ons verskafferslisensie wat aan NamPower toegeken is deur middel van ’n ooreenkoms vir elektrisiteitsvoorsiening tussen NamPower en Congo Namibia Trading, verskaf NamPower elektrisiteit aan ’n toevoerpunt wat op ons rekord as die Kombat-kopermyn (voorheen Ongopolo-myn) aangeteken is. Ons verstaan die naam van die myn het intussen verander,” sê hy.

“Soos aangedui in ’n nuusverklaring oor ons herwinningsplan is Congo Namibia Trading een van die wanbetalers, of het nie aanvaarbare reëlings getref nie, en vanaf dié week word kragtoevoer aan alle kliënte wat versuim het om te betaal, en sonder voldoende reëlings in plek, onderbreek,” het hy verlede week gesê.

Die kwessie rakende Kombat se kragskuld is so beduidend dat dit nie moontlik vir inwoners is om elektrisiteit te gebruik nie, al wou hulle.

Volgens ’n inwoner, wat anoniem wou bly, het hulle voorheen geld in ’n rekening van Bank Windhoek betaal, maar het later besef NamPower ontvang nie die geld nie. Na navrae, is hulle ingelig die geld is terug na Kombat Village Properties se bankrekening gestuur.

Tans is Congo Namibia se regsverteenwoordiger, mnr. Norman Tjombe, se spesiale pleidooi – wat gerig is op die wettigheid van die kontrak – onder verhoor.

“Kragtoevoer na ’n onderneming (die verdediging) wat nie ’n lisensie soos uiteengesit in die elektrisiteitswet het nie is nietig en die aksie kan, op grond daarvan, nie slaag nie,” is Tjombe se argument.

NamPower se regsverteenwoordiger, me. Helena-Tashiya Walenga, sê dit is Congo Namibia se verantwoordelikheid om vir ’n lisensie vir elektrisiteitsverspreiding aansoek te doen, en sê al is die ooreenkoms ongeldig, moet die verskaffer betaal word vir die elektrisiteit wat reeds voorsien is.

NamPower dring aan op N$11,12 miljoen plus 20% rente per jaar vanaf mnr. Knowledge Katti se maatskappy, Congo Trading Namiba, waardeur hy blykbaar in 2015 die dorp gekoop het.

Regter Hannelie Prinsloo het die saak tot 5 Mei uitgestel.

Kombat was verlede Maandag tussen die plaaslike owerhede, ministeriële kantore en staatsondernemings, wat die eerste houe gevoel het in NamPower se stryd om skuld in te vorder. Vandeesweek sal waarskynlik weer afskop met die beperking van kragtoevoer tussen 11:00 en 15:00.

’n Kombat sakeman sê die gereelde kragonderbrekings belemmer vooruitgang op die dorp.

“Mens kan mos nie deur die dag sonder krag werk nie,” sê hy.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 20° | 32° Oshakati: 22° | 31° Ruacana: 21° | 33° Tsumeb: 21° | 32° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 19° | 33° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 24° | 34° Mariental: 24° | 36° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 21° | 34° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 25° | 39° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 18° | 23° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 15° | 23° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 17° | 34° Lilongwe: 23° | 34° Maputo: 21° | 29° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 18° | 28° Durban: 20° | 24° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!