Kragtarief styg met 5%
Kragtarief styg met 5%

Kragtarief styg met 5%

Plaaslike owerhede, streeksverskaffers, myne en streeksrade moet hul aanpassings voor Julie bekend maak.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die Elektrisiteitsbeheerraad (ECB) het Vrydag die nasionale kragverskaffer, NamPower, toestemming gegee om die tarief vir die verskaffing van elektrisiteit op groot skaal met 5% te verhoog.

NamPower het op 12 April aansoek gedoen om dié tarief met 6,5% te verhoog, maar volgens die ECB se uitvoerende hoof, me. Foibe Namene, is die prysverhoging van N$1,62 per kilowatt-uur na N$1,69 per kilowatt-uur voldoende om NamPower in staat te stel om sy koste te verhaal.

Dit sluit die betaling van onafhanklike kragverskaffers in.

Streeksverspreiders van krag, myne en groter munisipaliteite het tot 1 Julie, wanneer die verhoging in werking tree, om hul tarief-aanpassings aan te kondig.

Namene sê die goedgekeurde aanpassing is laer as inflasie, en verspreiders sal hul pryse na verwagting met nie meer as 5% verhoog nie.

Volgens Namene is die jaarlikse tariefverhoging daarop gemik om te verseker dat NamPower ’n effektiewe en betroubare kragverskaffer met billike tariewe is.

Die ECB moes verskeie faktore in ag neem, wat insluit die impak van die tariefveranderinge op plaaslike nywerhede, die plaaslike ekonomie en plaaslike kragverbruikers se belange.

Nasionale ontwikkelingsplanne, regeringsbeleide en kabinetsbesluite, soos die opdrag in 2005 dat kragtariewe teen 2012 kostes moet dek en daarná so moet bly, is ook in ag geneem.

Namene sê belanghebbers is na ’n vergadering genooi waartydens NamPower hul behoeftes bespreek het.

Hul insette is met die neem van dié besluit in ag geneem, sê sy.

“Die 5%-tariefverhoging is laer as die voorspelde inflasie van sowat 5,3% vir die 2018-’19-periode, en dus sal die impak op inflasie na verwagting minimaal wees,” sê sy.

Die verhoging is op NamPower se grootmaatkliënte van toepassing, wat streeksverspreiders, plaaslike owerhede, streeksrade en myne insluit.

Kliënte sal elk afsonderlik by die ECB aansoek moet doen vir die goedkeuring van hul eie verhogings.

“Die ECB en die elektrisiteitsverskaffingsbedryf is bewus van en bekommerd oor die bekostigbaarheid van krag in die land. Dit is ’n feit dat die ekonomie hoogs afhanklik van betroubare en bekostigbare elektrisiteitsverskaffing is.

“Dit is dus die beheerraad se verantwoordelikheid om ’n volhoubare elektrisiteitsverskaffer met bekostigbare tariewe te verseker,” sê sy.

Intussen het die ECB ook begin met ’n studie van nasionale kragtariewe en verspreiding om te bepaal hoe ’n studie oor die nasionale elektrisiteitstarief in 2001 se voorstelle gemeet kan word en om die koste van kragverskaffing deur verspreiders te hersien.

“Die studie sal voorts die verskil tussen vaste en veranderlike koste met betrekking tot vaste en veranderlike pryse evalueer. Dit sal na verwagting teen die einde van 2018 voltooi wees en verskeie belanghebbers sal daarby betrek word,” sê sy.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!