Krake in die hofgebou
Krake in die hofgebou

Krake in die hofgebou

[email protected]
Sanet de Waal
Kristien Kruger

Ek weet nie of jy al ooit in die hof was nie. As nuuskierige waarnemer of dalk selfs as ’n beskuldigde, maar ek vermoed baie min mense was al daar as joernalis en dis nogal ’n sonderlinge gebeurtenis.

Ek sit elke dag in ons howe. Notaboek in hand en kamera onder die blad. Ek sien die krake in die mure en verf wat afdop. Vervalle ou geboue wat ons so stuk-stuk herbou. Hulle probeer tog hul bes om te herbou voor die hele gebou bo-op ons koppe insak.

Ek sit tussen kriminele – ag nee sorrie, ek bedoel beskuldigdes. Sommige sit in berou en selfverwyt. Ander sit daar nonchalant en doodgerus.

Hulle sit in hul hokke. Die beskuldigingsbanke het trappe na ’n onderste vlak waar die polisie hul inbring en wegvat. ’n Gat in die grond. Hoe ironies.

Die media het ’n plekkie voor in die hof, langs die beskuldigingsbank, waar ons sit. Daar is gewoonlik ’n paar minute voordat die regter inkom en nadat die beskuldigde ingebring is. Dit is in hierdie paar minute waartydens joernaliste foto’s van die beskuldigdes mag neem. ’n Deel van my werk wat ek regtig ’n hekel aan het.

Elke beskuldigde reageer anders op my ongemaklike fotosessie. Oogkontak word gewoonlik vermy en soms word daar self gesig toegemaak of kop tussen bene gedruk – baie soos ’n hond, stert tussen bene.

Ek skarrel dan, lens voor oog en probeer ten minste ’n goeie skoot van die beskuldigde kry. Baie soos ’n dier in ’n baie klein hok.

Dit gebeur somtyds dat daar na die kamera gekyk word, selfs geglimlag word. Wat hul besiel weet ek ook nie. Is hulle oortuig van hul onskuld? Is dit ’n teken van selfvertroue? Indien wel, goed vir jou.

Volgens die polisie wat altyd in die hof teenwoordig is, mag ek foto’s van hulle neem al sê hulle wat vir my, maar daarmee is ek nie so gemaklik nie.

Ek het dit daarom ’n persoonlike reël gemaak om altyd eers te groet, dan te neem en indien dit pynloos verloop, gee ek ’n dankbare kopknik.

Dit is ook in hierdie paar minute voor die regter uitkom, wat die beskuldigdes soms geselsies aanknoop. Meestal vra my mening oor die saak en deurgaans getuig hul hul onskuld.

Nie regtig hul onskuld nie, maar die waarskynlikheid dat hulle onskuldig bevind kan word en ’n stukkie waarheid steek soms daarin.

Ek het as hofjoernalis deur ure se verhore gesit, notaboeke vol geskryf en aandagtig geluister en waargeneem. Heckmair, Lichtenstrasser, Noble en dies meer.

Ek het besef daar is ’n gaping tussen onskuld en onskuldigbevinding. Die klein dogtertjie binne my wil glo as iemand skuldig aan ’n misdaad is, veral moord en verkragting, dat hulle sal kry wat hul toekom, dat geregtigheid sal geskied, maar die hof werk op ander beginsels.

Die staat moet bo redelike twyfel kan bewys die persoon is skuldig. Bewyse word grootliks deur ons polisiemag bepaal. Soms is bewyse te min, te versteur, te vaag, teleurstellend. Soms is die verdediging te slinks. Soms is daar skuiwergat. Soms skiet geregtigheid tekort.

Ek sit elke dag in ons howe. Ek sien die krake.

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer