Kreatiewe denke oorrompel syfers

Die aanvanklike steun wat haar kunswerk van vriende en kennisse gekry het, het haar oortuig haar passie kan die finansiële toets van die pandemietyd deurstaan.
Tanja Bause
Tanja Bause – “Ek het my pa se dood as 'n teken van Bo gevat, my werk bedank en myself heeltemal aan kuns oorgegee,” vertel die 25-jarige Anesia Prior.

Anesia is in Windhoek gebore en hier het sy ook haar skoolloopbaan voltooi. Ná skool het sy 'n graad in sakebestuur by die Universiteit ­Stellenbosch verwerf en toe vir die volgende twee maande by PwC in Windhoek as belastingkonsultant gewerk.

“Ek het nog altyd geweet ek kan teken, maar dit was nie 'n passie wat my gedryf het om kuns te gaan studeer nie. Ek het in 'n sake- en ­korporatief-georiënteerde familie grootgeword. Niemand in my familie is kunstig nie.”

In 2019 is haar pa oorlede en sy het besef hoe kort die lewe is. Sy het nog vir die volgende agt maande gewerk, voordat sy in April oornag bedank het.

“Ek het besef ek moet iets doen waarvoor ek lief is. Ek het eendag opgestaan en besluit ek moet skilder.

“Ek het nie geweet hoe ek dit gaan doen nie. Ek het 'n vaste salaris verdien en nou sou ek basies op kommissie werk. Maar ek het besluit dis wat ek moet doen en het bedank om my roeping te volg.”



'AS EK GEWEET HET'

'n Week nadat Anesia haar ­bedanking ingedien het, het die Covid-19-­pandemie Namibië getref.

“My bedankingsmaand het ek by die huis gewerk. As ek geweet het Covid gaan ons tref, sou ek heel moontlik nie bedank het nie. Mens kan nie onverantwoordelik wees en sulke kanse waag nie. Maar dit het gebeur 'n week nadat ek bedank het en ek kon nie die bedanking terugtrek nie. Ek het besluit om deur te druk en ek is nie 'n oomblik spyt nie.

“Wie sou kon raai dat 'n kunstenaar in Covid-tye kos op die tafel kan sit? Dis net weer 'n bewys dat wanneer jy doen wat jou roeping is, kán jy geld maak. Jy sit soveel van jouself in jou werk in en mense sien dit raak.”



Mense wat geweet het sy skilder, het haar gedurende Januarie al meer en meer genader en gevra of sy die een of ander skildery vir hulle kan maak.

Dié ondersteuning het haar ook oortuig dit is dalk iets wat sy voltyds behoort te doen.

“Ek het ná werk geskilder en die werk het net al hoe meer geword, wat my bedanking ook beïnvloed het.”

Op laerskool het sy een keer per week kunsklasse gehad, maar verder het sy geen formele opleiding ontvang nie en alles self geleer.

“Ek het myself geleer. Ek glo vas harde werk en oefening klop talent elke keer.”

Anesia het nie 'n vaste styl nie en sy doen meestal wat kliënte van haar vra. Sy werk met houtskool, olie-, water- en akrielverf en stensils.

Sy teken wilde diere, natuurtonele, historiese geboue, portrette, plante en nog vele meer.

“My eerste liefde en gunsteling­medium is egter olieverf. Dit vat baie tyd, want dit is laag op laag. Jy begin stadig en dan voeg jy stuk vir stuk by. Dis nie maklik nie, maar ek hou van 'n uitdaging en die lewensduur van olieverf.”



BELONING DIE MOEITE WERD

“Jy is verantwoordelik vir jou eie lewe en ek het besluit ek gaan nie oor 20 jaar een oggend wakker word en besef ek het baie tyd gemors nie.

“Dis hoekom ek besluit het om my werk te bedank en te doen wat ek wil, want wie nie waag nie, sal ook nie wen nie.

“Ek het wel 'n graad waarop ek kan terugval as dit nie sou uitwerk nie. Ek kan altyd terug in die korporatiewe wêreld gaan.”

Sy besef dié pad is nie vir almal so maklik nie, maar die beloning is die moeite werd.

“Dink net, om elke dag op te staan en iets te doen waarvoor jy lief is. Hoeveel mense kan dit sê? Ek kan nie wag vir naweke om verby te gaan nie, sodat ek Maandag weer kan skilder. Hoeveel mense ken jy wat ­opgewonde is dat dit Maandag is? Mense wat ­opgewonde oor hul werk is?”

Mense kan op Facebook of Instagram onder Amaryah Collection gaan kyk wat Anesia alles doen.

“Amaryah beteken 'Belofte van God' en toe ek die besluit geneem het om te bedank, het ek die naam op my hart gehad.

“Ek glo daaraan om bekostigbare kuns te doen. Dit is vir my ontsagwekkend wanneer jong mense my nader en vra of ek hulle kan help met 'n kunswerk vir hul sitkamer, slaapkamer of kantoor.

“Ek is ook jonk en weet hoe duur kuns is en dis vir my besonders om iets vir hul huis te kan doen wat hulle kan bekostig en wat hul huis mooi maak soos hulle dit wil hê,” het Anesia gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!