Krediet-ashoop

Die minister van finansies het rommelvure probeer doodslaan, maar ontleders meen die regering het op sy louere gerus en dat ‘n paar jaar se swaarkry steeds voorlê.
Jo-Maré Duddy
Jo-Maré Duddy – Namibië se jongste rommelkrisis is hoofsaaklik sy eie skuld en die regering moet ophou skuil agter “eksterne faktore” soos ekonomiese verwikkelinge in die streek en die wêreld.

Fitch Ratings het Namibië Dinsdag verder in die rommel gedompel deur die regering se langtermynskuld in buitelandse geldeenhede van BB na BB+ af te gradeer, met ‘n stabiele vooruitsig. Dit beteken die land lê nou twee vlakke onder beleggingstatus.

Kort ná Fitch se valbyl het die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, in ‘n verklaring gesê dié gradering moet in die konteks van “gedempte verwikkelinge in die wêreld-, streek- en plaaslike ekonomie” gesien word.

Namibië is ‘n “klein, oop” ekonomie wat deur handelskanale aan ongunstige verwikkelinge wêreldwyd blootgestel is, het Schlettwein gesê. Die regering neem wel kennis van plaaslike faktore wat ‘n rol in Fitch se besluit gespeel het, het hy bygevoeg.

‘SNERT’

“Ek sê twak,” het die onafhanklike ekonoom en medestigter van Cirrus Capital, mnr. Rowland Brown, gister in minder mooi taal gesê. “Dis hoog tyd dat iemand dit sê.”

Die wêreld se ekonomie gaan vanjaar na verwagting met meer as 3% groei. So ook Afrika suid van die Sahara. Fitch skat Namibië se ekonomie gaan met -1,2% groei. Dit sal die land se derde opeenvolgende jaar in ‘n resessie wees.

“Die res van die wêreld groei; Namibië nie,” sê Brown. “Hierdie is nie ‘n wêreldkwessie nie, dit is ‘n Namibiese kwessie.”

Mnr. Dylan van Wyk, navorser by IJG Namibia, stem saam.

Fitch sê Namibië se bruto binnelandse produk (BBP) gaan oor die tydperk van 2016 tot 2021 “net stagneer”. Van al die lande wat hulle gradeer, sal dit die derde swakste ekonomiese vertoning wees, aldus Fitch.

“Dit beteken ons kan nie langer eenvoudig vir ‘n algemene term (blanket term) soos eksterne faktore die skuld vir ons verknorsing gee nie,” sê Van Wyk.

“Die huidige resessie en swak groeivooruitsig is ‘n simptoom van die status quo wat té lank gehandhaaf is,” sê hy.

Skepties

Namibië is in 2017, toe die huidige resessie begin het, deur beide Fitch en Moody’s na die hoogste kerf op die rommelleer afgegradeer.

Schlettwein het in 2016 die begrotingslem diep begin inlê om die regering se wegholskuld te probeer keer en makro-ekonomiese stabiliteit na te jag.

Fitch het nou sy bedenkinge oor of dié konsolideringsplan gaan help. “Gedempte ekonomiese vooruitsigte, gepaardgaande met verhoogte ongelykheid en hoë werkloosheid” bied reuse-uitdagings aan die regering se plan om sy skuld met uitgawebesnoeiing te stabiliseer, sê Fitch. Veral die duur salarisrol word in dié verband genoem.

Fitch sê die regering het homself tot begrotingskonsolidering verbind, maar het nou nog nie “genoegsame maatreëls” ingestel om sy teikens te bereik nie.

Die primêre begrotingstekort het die afgelope vier jaar “taamlik” gekrimp, maar net omdat die ontwikkelingsbegroting en nie-salarisverwante bedryfsbesteding “aansienlik”’ gesny is, sê Fitch. Daar is min ruimte vir verdere besparings. Boonop is ‘n beduidende gedeelte van vorige besparings deur hoër rente op skuld opgeslurp.

‘ONTELBAAR’

Druk op uitgawes is “ontelbaar”, sê Brown.

Meer mense moet werk kry, onder meer 4 000 nuwe gesondheidswerkers en 2 000 nuwe onderwysers, die vakbonde eis verhogings hoër as inflasie, en hoër rentekoste of meer geld is nodig om ondernemings in staatsbesit (SOEs) te red. “Die kans vir oorbesteding op uitgawes is baie hoog,” meen Brown.

Die regering bestee élke jaar tussen N$8 miljard en N$10 miljard méér as sy inkomste, sê hy.

Fitch verwag algemene regeringskuld gaan teen die einde van Maart 2020 51% van die BBP beloop, meer as dubbel die 25% van 2014-’15. Dit oorskry ook die verwagte BB-mediaan van 45%.

SOE’s se skuld teen die einde van 2017-’18 was sowat 22% van die BBP. Bykans 7% van die BBP is SOE-skuld wat deur die regering gewaarborg word, sê Fitch. Die beplande herstrukturering van Air Namibia kan die regering sowat 2% van die BBP kos.

Die regering moet in 2021-’22 Eurobond-skuld van US$500 miljoen, sowat N$7,6 miljard teen gister se wisselkoers, delg. Fitch meen die regering gaan dit doen, maar dit gaan tot ‘n “kwaai val” in die land se internasionale reserwes lei.

‘HARDNEKKIGE BOTTELNEKKE’

Ekonomiese groei sal op medium termyn vanweë die wankelrige mynbou- en staatsdiensektor na sowat 2% herstel, meen Fitch – verder onder die gemiddeld van 5,7% van 2010 tot 2015.

Onlangse beleidsinisiatiewe om beleggers te lok - soos die ekonomiese groeiberaad in Augustus - gaan weens “hardnekkige strukturele bottelnekke” net ‘n “gedempte impak” op die ekonomie hê, sê Fitch.

Me. Eloise du Plessis, navorsingshoof by PSG Namibia, sê dié bottelnekke verwys na beleidsmakers wat draal om beleggingsonsekerheid plaaslik én internasionaal uit die weg te ruim.

Die wiele van die ekonomie draai tans teen dieselfde tempo as die tweede kwartaal van 2015, sê Du Plessis. “Dit is vier jaar se groei wat uitgevee is en waarvandaan ons oor moet begin. Dít terwyl skuld steeds styg.”

‘SKIELIK’

Die regering is vol vertroue dat sy pakket beleidsrigtings die ekonomie op ‘n “ferm, positiewe en volhoubare groeitrajek op medium tot langter myn” sal plaas, sê Schlettwein.

Hy het ‘n beroep op die private sektor en die beleggersgemeenskap gedoen om “positief en ondersteuned tydens die aanpassingsproses” te bly.

Daar is nog baie implementering wat gedoen moet word, maar daar is stappe in die regte rigting, sê Van Wyk.

“Hierdie gaan ‘n moeilike skip wees om om te draai,” sê hy. Voor Namibië enige punt van omkeer bereik, lê nog taai jare voor.

Volgende jaar gaan weens die droogte, swakker mynbou, besuiniging en druk op huishoudelike inkomste nog ‘n gróter beproewing as vanjaar wees, sê Brown. Dit gaan die land se grootste toets sedert onafhanklikwording wees, meen hy.

Brown verwys na Ernest Hemmingway se antwoord op ‘n vraag hoe hy bankrot gespeel het. “Op twee maniere: Geleidelik en toe skielik,” het Hemmingway gesê.

“Namibië, ons het die ‘skielike’ deel bereik,” sê Brown.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!